Vers n dag - 11 Junie 2013
Sterk deur Sy genade en krag.
Carina Francke
2 Kor 12:7-10 "En dat ek my oor die openbaringe nie sou verhef nie, is my 'n doring in die vlees gegee, 'n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan dat ek my nie sou verhef nie. Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.
Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede om Christus wil, Want as ek swak is, dan is ek sterk."
Drie dinge waaruit ons kan leer staan uit in hierdie gedeelte:
Eerstens: Paulus se gebed word beantwoord.......met 'n nee. Hy gaan sit egter nie in sak en as nie, maar besef dat die "doring in die vlees" wat hom teister, 'n flitskaart is: dit herinner hom daaraan dat die Here by sy lewe betrokke is en dat hy afhanklik van Hom moet bly. Hy moet verstaan dat volharding en ook goddelike openbaringe nie gegee word omdat sy menslike krag en toegewydheid hom daartoe in staat stel nie, maar dat dit die werk van die Here in sy lewe is.
Tweedens sou Paulus deur hierdie "Nee" nog 'n openbaring ontvang: die oorwinnende genade van God is aan't werk in sy lewe. Die "doring" (probleem) is nie meer sy fokus nie, maar wel die genade wat werksaam is in sy lewe. En dit is 'n genade wat hom verseker dat hy in die seën en die guns van die Here leef - sonder dat hy dit verdien het. Hierdie genade-lewe boor 'n borrelende fontein van blydskap in hom oop, soveel so dat hy hom selfs kan verheug in sy swakhede, mishandelinge, node, vervolginge en benoudhede ter wille van Christus.
In die derde plek besef Paulus dat hy as swak mens die draer van God se krag is omdat die Heilige Gees in hom woning kom maak het. Dit wat hy kán doen, asook die verdra van die swakhede, node en dies meer, is slegs moontlik omdat God se krag in en deur hom werk - hy is immers net maar 'n kleipot wat maklik breek. Sy swakheid bring mee dat die volle opwekkende, ontploffende (dunamis) krag van God sigbaar in sy lewe kan werk - en dit is vir hom genoeg rede tot uitbundige vreugde.
Gebed: Vader, herinner my daaraan dat U genade, uitbundige vreugde in my lewe tot gevolg kan hê. Ek vergeet so dikwels in my swak tye dat ek dan eintlik op my sterkste is omdat U krag juis dan 'n sterk- maak krag in my word. U is waarlik dié God! Amen