Vers n dag - 10 Junie 2013
Blydskap in Hom beskerm
Carina Francke
Nehemia 8:10, 11:" Hierdie dag is heilig aan die Here julle God, treur nie en ween nie! Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die Here - dit is julle beskutting."
In 'n vorige dagstuk het ons gesê dat die heerskappy van God in jou lewe deur onder andere vreugde gekenmerk word. Maar hoe gemaak as hartseer, siekte, eensaamheid of selfs jou leefwyse die blydskap in jou versmoor?
In hierdie skrifgedeelte het die volk Israel bymekaar gekom om te luister hoe Esra die priester die Wet voorlees en verklaar sodat hulle dit kon verstaan. Hulle het so onder die indruk van die inhoud daarvan gekom, dat hulle begin huil het, (v10) maar Esra moedig hulle aan om liewer bly te wees en te gaan feesvier. Vreemd? Nee, Esra het geweet dat as 'n mens na die Woord luister en dit begin verstaan, dan word jou oë en ore oopgemaak om te hoor wat die Here vir jou persoonlik wil sê. En dít is rede om fees te vier!
Soms hét jy egter nodig om te huil oor dit wat jy hoor en lees, want die Woord het inhoud wat met jou praat - dikwels oor dinge in jou lewe wat in lyn daarmee moet kom. As dié dinge berou by jou opwek, vra sonder uitstel vergifnis daaroor! Die Here waarborg immers vergifnis! (1Joh1:9). Beskou dit dan as afgehandel en maak van hierdie geleentheid 'n feesgeleentheid, want dan kan jy ook sê: "Hierdie dag is heilig aan die Here julle (my)God, treur nie en ween nie! "(v10)
Maar wanneer die Woord 'n realiteit in jou lewe word, bemoedig dit ook: vir die eensame en hartseer mens is die Heilige Gees die Trooster; vir die bekommerde is die Hemelse Vader die Voorsiener; vir die een in pyn is Hy die Geneesheer en vir die kleingelowige is Jesus die Begin en Voleinder van sy geloof. Kortom, die teenwoordigheid van die Drie-Eenheid sélf word ons Bron van vreugde. Is dit nie genoeg rede om hande te klap en jubelend jou stem in sang te verhef nie?
Jy hét rede om bly te wees en fees te vier - Hy is ALLES wat jy nodig het! In jou bly-wees in die Here ís daar beskerming!
Gebed: Here, ek kies vandag om U woord as die bron van blydskap in my lewend te hou. Slegs blydskap in U kan my beskerm! Amen.