Vers n dag - 7 Junie 2013
Met God sien jy kans vir 'n bende
Carina Francke
Ps 18:30 "Want met U loop ek 'n bende storm, en met my God spring ek oor 'n muur.
1 Joh 4:4:"Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is groter is as hy wat in die wêreld is."
Wanneer ek dié verse lees, sien ek 'n prentjie van 'n kordate driejarige seun met sy pa of groter ouboet aan die hand wat met mannemoed en liggaamshouding reg staan om 'n paar boelies uit te sorteer. Nodeloos om te sê, dis nie die seun wat die geveg gaan wen nie, maar die teenwoordigheid van sy pa of ouer broer wat hom dapper genoeg maak om so 'n taak aan te pak.
As sondige mense die gelowige se lewe moeilik maak kan 'n mens dit nog verstaan, maar wanneer medegelowiges, familie of vriende jou die stryd aansê, raak dit jou aan jou hart, jou menswees. Moet egter nie wanhoop nie! Jy is in goeie geselskap: Paulus se medewerker Demas verlaat hom en die Korinthe gemeente bevraagteken sy integriteit. Dawid moet vlug voor sy eie seun Absalom en toe hy siek is, lig die man met wie hy in vrede leef sy hakskeen teen hom. (Ps 41:10)! Jesus word geminag deur Sy eie volk en sy dissipels ontken dat hulle Sy volgelinge is deur te vlug in Sy grootste uur van nood.
Hoe gemaak as die soort van ding ook jou pad langs kom? Onthou eerstens:"Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is groter is as hy wat in die wêreld is." Ja, God is altyd by ons: ons is Sy tempel waarin Hy woon en onder wie Hy wandel. Hy is ons God en Vader en ons is sy volk en sy kinders (2 Kor 6:16-18). Juis daarom kan en moet ons hierdie dinge met 'n Jesus-gesindheid hanteer.
In die tweede plek moet jy besef dat Hy aan jou kant is. Jy staan nooit alleen in enige krisis nie. Soos daardie klein seuntjie kan jy gerus jou hand met vertroue in Syne plaas - met Hom aan jou kant vorm julle 'n verenigde front teen enige aanstormende bende.
Gebed: Vader, soms raak ek bang as ek op dinge en mense om my fokus. Ek besluit vandag om te glo wat U sê: dat U altyd by my sal wees. Daarom kies ek om my vertroue en geloof in U te plaas! Amen