Vers n dag - 6 Junie 2013
Sy krag in ons...laat ons stewig vasstaan
Carina Francke
Efe 6:10: "Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel."(NAV)
Ons assosieer krag gewoonlik met iemand wat swaar gewigte kan optel, vragmotors met 'n band om sy middellyf kan trek of iemand wat mense soos lappoppe rondgooi op 'n stoeimat. Maar dis brute fisiese krag en kan niks vermag teen die reële onsigbare wêreld wat deel van ons bestaan is nie.
Paulus skryf die volgende oor hierdie onsigbare wêreld waarteen ons stry: "...ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug." Efe 6:12.
Jou geveg teen jou eie dwaalgedagtes, jou spanningsvolle verhoudinge, jou onvermoë om te vergewe of lief te hê, jou gebrek aan selfbeheersing en sommer al die jakkalsies wat jou wingerd verniel, is dikwels die werk van die magte van die onsigbare geesteswêreld vir wie jy jou geestelike ore uitleen. Hulle maak sonder ophou op jou totale menswees 'n aanslag, want die vyand se strategie is om jou moeg te maak en van stryk te bring totdat jy so swak is dat jy sukkel om "op jou pos te bly" en uiteindelik wil handdoek ingooi.
Maar moenie! Hoor wat sê Paulus:"....soek julle krag in die Here en in Sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gegee het sodat julle op julle pos kan bly." (Efe 6: 10,11).
Hierdie krag is nie die soort wat kragmanne demonstreer nie, maar dit is 'n krag wat in jou leef en word geaktiveer deur jou aktiewe verhouding met die Bron daarvan - God. Sy krag laat jou voete vasstaan, stel jou in staat om met vertroue jou wapenrusting aan te trek en om met jou wapens van aanval en verdediging- die Woord en die Gees - kolskote op die vyand af te vuur.
Gebed: Gewer van bonatuurlike krag, baie dankie dat U so naby aan my is dat U kan sien as ek U soek. Help my om in die hitte van die stryd nooit te vergeet nie dat ek net nodig het om te roep, en U sal hoor. Amen.