Vers n dag - 5 Junie 2013
Christus in ons.... verlos ons
Carina Francke
Rom 7:24,25: "Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here."
Het jy al gedagtes bedink wat jou laat skrik vir jouself? Gedagtes wat jou laat wonder hoe op dees aarde iemand wat bely dat hy in 'n verhouding met die Here staan, sulke dinge kan bedink? Of dalk het jy, wat so bedag is op hoe jy mense hanteer en met hulle praat, jou selfbeheersing verloor en daarna uit verleentheid gewens dat jy kop-in-die-sand kan gaan staan?
Waarom hierdie dualisme in een mens? Beloof die Woord dan nie dat "alles nuut geword het" (2 Kor 5:17) as jy in Christus is nie? Natúúrlik het alles nuut geword, hoe anders sou jy so intens bewus kan word van hierdie toutrekkery tussen goed en kwaad, reg en verkeerd hier in jou binnekant? Dit is mos die Gees in en by jou "wat jou in die hele waarheid lei!" (Joh16:13).
Jy sien, ons het twee magte of wette wat in ons binneste baklei. In die eerste plek is daar die wet van die vlees waarin daar niks goeds woon nie (Rom 7:18) en wat gedurig aan't werk is om die (eie)EK te bemagtig. Dan is daar die wet van die gees wat op jou gemoed, jou innerlike, jou wedergebore gees 'n beroep doen om die goeie te doen.
Paulus het ook hierdie dualisme in sy lewe ondervind: "Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late 'n ander wet wat stryd voer teen die wet van my gees." (Rom 7:22 NAV)
Hy roep ook soos ek en jy uit: "Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?" En dan gee hy die oorwinnende antwoord: "Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here." (Rom 7:24)
Jy en ek kan nie op ons eie 'n goeie lewe lei wat die Here behaag nie. Nee, ons kan niks doen sonder Hom nie! As jy dus volgende keer weer bewus word van hierdie dualisme wat jou voos slaan, moenie volstruiskoppie trek nie, maar lig jou kop op en roep om hulp: "Verlos hierdie ellendige mens van hierdie doodsbestaan, my Here en my God!"
Gebed: My Vader, dankie dat die Gees my oortuig as die vlees my (eie) Ek laat opstaan. Ek vra nou: Wees hierdie ellendige mens genadig en laat my leef soos 'n mens in wie U leef. Amen