Vers n dag - 4 Junie 2013
Die Heilige Gees in jou....getuig van jou geloof
Carina Francke
Rom 8:16: "Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is"
As Christengelowiges in wie die Heilige Gees woon, word ek en jy dikwels gekonfronteer oor die "sinneloosheid" van ons geloof in die lig van filosofiese oortuigings van die dag. Hierdie "filosofiese rasionele denkers" verkondig 'n ander Christus as die Een wie ek en jy leer ken het. Humanistiese leringe, die bevraagtekening van die Bybel as geïnspireerde Woord van God, die ontkenning van Jesus se maagdelike geboorte, sy vleeswording, dood en opstanding, is gewoonlik hoog op die agenda van sulke mense.
Wanneer ons gekonfronteer word deur dié soort uitlatings, moet ons onthou in wie ons glo - in Jesus wat deur God uit die dode opgewek is (Rom10:9). Hiervan sal die Heilige Gees in jou ook getuig, want "Hy is die Gees van waarheid, wat julle in die hele waarheid sal lei (Joh 16:13).
En nou die vraag: Hoe weet ek en jy dat dit nie 'n misleiding- of dwaalgees is wat in my binnekant aan die werk is nie? "Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus in die vlees gekom het, is uit God." (1Joh 4:2). Ons hoef dus nie vol onsekerheid en twyfel rond te hardloop op soek na waarheid nie - die Waarheid leef ín ons! Ons kan die leuengeeste oorwin!
As Jesus Christus, God se seun wat in die vlees aarde toe gekom het vir jou 'n realiteit in jou lewe geword het, is jy uit God gebore, is jy Sy kind. Dan kan jy enigiets in die sondige wêreld oorwin, want "....Hy wat in julle is, is groter as hy wat in die wêreld is."(1Joh 4:4)
Gebed: Vader, ek dank U dat ek nooit op my eie insig of krag staat hoef te maak om my geloof te behou nie, maar dat die Heilige Gees wat in my woon, my gees en verstand sodanig verlig dat ek weet, omdat ek weet, omdat ek weet, U is God en Jesus Christus is u Seun wat in die vlees aarde toe gekom het. Amen