Vers n dag - 3 Junie 2013
Die koninkryk van God ....in ons
Carina Francke
In die eerste gedeelte van hierdie maand se dagstukkies gaan ons kyk na wat God in die lewe van die Christusgelowige doen. Wanneer ons kind van God word deur ons geloof in Jesus Christus, kom woon die Heilige Gees in ons en word ons deel van God se koninkryk. As mede erfgename saam met Jesus, word die beloftes in die Woord dus ook ons beloftes.
Maar wat presies is die koninkryk waarvan ons deel is?
Lukas 17:20,21: "Toe die Fariseërs vir Jesus vra wanneer die koninkryk van God dan kom, het Hy hulle geantwoord: 'Die koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie. Hulle sal nie kan sê: 'Kyk, hier is dit!' of: 'Daar is dit!' nie, want die koninkryk van God is hier by julle." (NAV) Die OAV lees: ".... die koninkryk van God is binne-in julle."
Almal weet dat 'n koninkryk 'n plek is waar 'n koning heers. Die koninkryk van God is dus 'n plek waar God heers - ín en oor die lewens van sy "onderdane". Jesus bevestig dit as hy die mense leer dat die koninkryk in hulle is. Hierdie koninkryk is nie vir die blote oog sigbaar nie, en is ook nie gekoppel aan 'n geografiese ligging nie, maar is dinamies, ewig, groeiend en aktief betrokke in die lewens van mense wat Jesus Christus, die Koning eer en in wie die Gees van die Koning leef.
'n Kenmerk van hierdie koninkryk in die gelowige, is die krag (van die Heilige Gees) wat in jou werksaam is. Hierdie krag beskik o.a. oor die vermoë om jou nuut te maak en te verander sodat jy die heiligheid van die Koning wat in jou heers, kan weerspieël. Blote praatjies oor geloofsdinge het geen waarde in die koninkryk nie, die krag daarvan moet in jou lewe sigbaar wees. "Die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in krag."(1 Kor 4:20)
'Nog 'n kenmerk van die Koningsheerskappy in jou lewe, is dat daar vrug sigbaar moet wees. Rom14:17 leer: "Die koninkryk van God is nie 'n saak van ete en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God (geregtigheid), vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee."
As gelowige is jy in 'n baie gunstige posisie: die heerskappy van God is in jou lewe teenwoordig maar jy moet voortdurend soek en streef daarna hoe om dit in jou lewe te realiseer. (Luk 12:31). Alleen dan kan jy vrug dra wat pas by die koninkryk.
Gebed: Vader, dankie vir U Koningsheerskappy in my lewe. Help my om altyd daarvan bewus te wees - ongeag die omstandighede waarin ek my bevind. Amen.