Vers n dag - 31 Mei 2013
Die belangrikheid van gebed
Quintus Heine
Markus 14:32 Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: "Sit hier terwyl Ek gaan bid."
In Jesus se benoudste uur, voor sy gevangeskap het Hy gaan bid. Dit behoort vir ons te wys hoe belangrik gebed is. Dit is nie maar 'n terloopse daad wat Christene doen as hulle kerk toe gaan of voor hulle eet nie. Dit is die essensie van praktiese Christenskap.
Sonder gebed sal daar geen krag in ons geestelike lewe wees nie. Dit is opmerklik dat Jakobus wat soveel klem op praktiese Christenskap plaas, in sy brief soveel aandag aan gebed gee. Jakobus 5:16 Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking. Die gelowige se gebed het nie opsigself krag nie. Dit het krag omdat dit jou inskakel by die hemelse kragte van die Heilige Gees. Egte gebed plaas ons in die kragstroom van God. Dit het veranderende krag omdat dit sy krag in die Here soek. Efesiërs 6:10 Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.
Toe die bekende prediker Charles Spurgeon in sy vroeë twintigs was, het hy gereeld vol kerke gelok met sy prediking. Hy het ook baie predikers opgelei. Hy het op 'n stadium gesê: "Ek sal eerder een mens leer bid as tien mense leer preek." Volgens sy studente was gebed die een saak wat essensieel by hom was. Net so het Andrew Murray op 'n keer gesê: "Die mens wat die Christelike kerk sal leer om te bid, sal die grootste bydrae maak in die geskiedenis van wêreld evangelisasie."
Hoeveel gelowiges en gemeentes sal getuig dat hulle ware vernuwing met kragtige gebedsaksie saamgeval het. 'n Gemeente of individu se persoonlike toewyding aan God begin met 'n toegewyde gebedslewe.
Hiermee word die kort reeks oor gebed afgesluit. Hierdie maand se skryfstukke was 'n kort inleiding oor gebed. Mag die Heilige Gees julle elkeen so lei dat jy 'n wonderlike gebedsverhouding met God het.
Vir die wat meer wil lees oor my nadenke oor gebed kan my gebedsblog lees: http://www.communitas.co.za/blogs/gebed
Gebed: Here leer my om die krag van gebed in my geestelike lewe te besef. Amen