Vers n dag - 30 Mei 2013
Hoe moet my gebedshouding wees?
Quintus Heine
Efesiërs 3:14 Daarom kniel ek in gebed voor die Vader.
In die Bybel is daar heelwat voorbeelde van verskillende liggaamshoudings en gebare tydens gebed. Daar word egter nêrens spesifieke voorskrifte gegee nie. Hou egter in gedagte dat gebed nie net 'n geestelike oefening is nie, maar dat jou hele liggaam (fisies) saam in gebed voor die Here is. Aan die een kant moet ons waak teen die miskenning van ons liggaamlike, as deel van gebed. As ons met iemand praat, kommunikeer ons liggaamshouding harder as woorde – met gebed is dit nie anders nie. Aan die ander kant moet ons ook waarsku teen enige wettiese voorskrif wat mense wil afdwing. Jou liggaamshouding en jou gebare kan egter help om jou fokus op God te verskerp.
Liggaamshouding
Gebuigde knieë: Dit is 'n bekende vorm van liggaamshouding in die Bybel. Wie kniel word klein voor die grote God. Dit is 'n teken van diepe oorgawe. In die vroeë kerk is dit die houding wat die meeste geestelike leiers gebruik het.
Om te staan: In die Ou Testament is dit die algemeenste gebruik. Gewoonlik met opgehefte hande na bo en die oë na die hemel gerig. Dit is 'n teken van eerbied en erkenning van die gesag van die persoon voor wie jy staan.
Om geboë te sit: In die Bybel ken ons nie die houding om te sit en bid nie. Dit het eers in die 17de eeu NC in die kerk posgevat. Daar was 'n eietydse kultuur dat mans gestaan het, terwyl vroue bly sit het. Die volgende ontwikkeling was dat almal in gebuigde houding voor die Here bly sit het. Die gebruik het byval gevind omdat dit min vermoeienis op die liggaam was (ipv staan en of kniel) en sodat mense beter op God kon konsentreer.
Gebare
Arms na bo: Dit was veral die gebruik by die Jode om arms na bo en handpalms na bo te rig. Dit is 'n gebaar van iemand wat wag om te ontvang. Handpalms na bo: Baie gebruik die houding om hulle openheid aan God te toon. Hande tesame: Hierdie bekende gebruik in vandag se tyd kom nie in Bybel voor nie. Dit is in middeleeue deur die kerk gebruik as teken van verootmoediging en om jou hande gefokus te hou. Handeklap: In die Ou Testament is dit verstaan as handeklap vir die Here.
Oop oë: Israel het staande gebid met oë oop gerig na bo. Jesus en Paulus het dit ook gedoen. Toe oë: Dit is 'n teken van eerbied wat deur die eeue in kerke die gebruik geword het. Dit het ook gehelp met konsentrasie.
Wat ook al jou gebedshouding of gebare is, is 'n persoonlike voorkeur volgens omstandighede en geloofsgebruike. Dit is egter belangrik om te weet dat jou hele liggaam ook saambid as jy vir God aanroep. God sien egter ons harte raak – dit moet ons nooit vergeet nie.
Gebed: Here help my om te besef dat my hele liggaam saambid as ek U aanroep. Amen.