Vers n dag - 29 Mei 2013
Onse Vader-gebed (10)
Quintus Heine
Die afgelope twee weke (tot Vrydag) het ek die Onse Vader-gebed behandel. Die laaste sin (sien die teks van vandag) kom nie in die ouer weergawes van die oorspronklike manuskripte van die Bybel voor nie, daarom is dit ook in die 1983-vertaling uitgelaat. Dit kom egter wel in sekere jonger geskrifte voor (soos in die 1933/1953 Afrikaanse vertaling genoem). Die feit dat dit nie in die vroegste manuskripte voorkom nie, beteken nie dat ons dit nie hoef te bid nie. Dit word algemeen aanvaar dat in die tyd van die Here Jesus dit 'n gebruiklike afsluiting van gebed was. Ons kan dit dus met vrymoedigheid ons gebed daarmee afsluit. Ek dink dit is 'n baie gepaste afsluiting van ons gebed. Ek wil die reeks oor die Onse Vader-gebed hiermee afsluit.
Matteus 6:13b "Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen." (1933/1953-vertaling)
Hierdie laaste gebed is 'n lofbetuiging en belydenis aan God. Die slotwoorde van die gebed keer terug waarmee begin word, naamlik 'n lofbetuiging en belydenis dat God in beheer is van sy koninkryk en dat sy krag en heerlikheid bokant alles uitstaan! Hy is die begin en die einde. Hierdie slotwoorde is 'n belydenis wat al die vorige bedes in die Onse Vader-gebed saamvat en dra. Hy is by magte om die koninkryk te laat kom. Hy is in staat om Sy wil te laat geskied, omdat die heerlikheid aan Hom behoort! Alles – ja, alles – is tot sy verheerliking. Hierdie frase in die Onse Vader-gebed kom sterk ooreen met die lofrede in Openbaring 4:11: U is waardig, O Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape. Dit is 'n belydenis dat Hy in beheer is en dat ons van sy krag afhanklik is.
Ons het die Onse Vader-gebed baie nodig. Saam met die gelowiges van alle tye is ons dankbaar vir die modelgebed wat Christus ons geleer het. Daar kom tye dat jou eie woorde opdroog en jy nie weet wat om te bid nie. Daar kom tye waar jou gemoed so vol hartseer of vreugde is dat jy weet jou eie woorde gaan leeg klink. Dit is in sulke tye dat jy die gebed van die Onse Vader vir die Here kan bid. Toe ek kind was is ons geleer om die gebed uit ons kop uit te leer – sodat ons dit enige tyd kan bid. Daar is baie dae wat ek net voor God buig en hierdie gebed bid! Dit is ook 'n gebed wat jy vir ander mense kan bid. Soms wil jy iemand ondersteun en jy het nie woorde nie. Dan is hierdie wonderlike gebed van God 'n troos en 'n belydenis.
Gereeld: Kom ons bid hierdie gebed gereeld. Kom ons leef dit – sodat God die eer kan kry deur ons lewens en ons gebede. Indien jy sommige van die dagstukkies van die Onse Vader-gebed misgeloop het, kan jy dit aflaai by www.versndag.co.za . Kliek dan op die argiefskakel.
Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.