Vers n dag - 28 Mei 2013
Dankbaarheid is die hoofdeel van ons gebed
Quintus Heine
Psalm 146:1-2 Prys die Here! Ek wil die Here prys. Ek wil die Here prys so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is.
Ons is van jongs af geleer om vir alles dankie te sê. Die bedoeling daarvan is baie meer as bloot goeie maniere. Indien jy vir iemand dankie sê, gee jy erkenning aan daardie persoon. Deur dankbaarheid te bewys, betoon jy nie net respek nie maar jy gee te kenne dat jy van die ander persoon vir 'n sekere saak afhanklik is. Dankbaarheid is dus 'n erkenning en 'n afhanklikheidsverklaring. Dankbaarheid is om die eer aan iemand anders as jyself te gee. Deur ondankbaar te wees wil jy die eer en erkenning vir jouself hou! Ondankbare mense is mense wat vol is van hulself. Dankbaarheid is 'n teken van nederigheid.
Dankbaarheid is belydenis van afhanklikheid. Ons geloofsvaders van die 15de eeu het gesê die beste manier van dankie sê is deur te bid. So is die belangrikste deel ons gebed, om vir die Here dankie te sê! Hoe meer ons vir die Here in gebed dankie sê, hoe meer kom ons agter dat ons vir niks op aarde verantwoordelik is nie, maar dat alles van God af kom. Ons moet nie huiwer om in detail alles vir Hom op te noem nie, dan sal ons kan sien hoe afhanklik ons van Hom is.
Danksegging en lofprysing is 'n lewenstaak en hartsingesteldheid. Psalm 34:2 sê: Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees. Danksegging is nie net bedoel vir die tye wat jy kerk toe gaan nie. Dit is ook nie iets wat slegs op sekere tye gebeur nie. Dis 'n omvattende hartsingesteldheid wat altyd teenwoordig is. Jy sien mense se dankbare gebedsgesindheid in hulle dankbare optrede teenoor ander mense. Dalk moet ons weer leer om dankbaar teenoor die Here te wees vir alles wat ons is en het! Kom ons leef die dankbaarheid elke dag uit!
Ons moet ook in alle omstandighede dankbaar wees. Daar kom dikwels tye wanneer ons kwaad is, verontreg voel of ontsteld is – steeds moet ons ʼn dankbaarheidgesindheid hê. Ons moet leer om selfs vir die slegte dinge te kan dankie sê. Romeine 8:28 Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.
'n Dankbare gebed genees jou van ontevredenheid en bring jou nader aan God.
Let asseblief daarop dat ek die Onse Vader-gebed Woensdag afsluit.
Gebed: Dankie Heer vir u genade, liefde en vrede. Maak my 'n dankbare mens teenoor U en teenoor my naaste. Amen