Vers n dag - 27 Mei 2013
Hoe beantwoord God ons gebede?
Quintus Heine
Romeine 8:28 Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.
Soms sal iemand vir my sê: Hy bid sy lewe lank vir 'n saak en hy glo dat sy gebed tot eer van die Here is, tog kry hy na jare se gebed geen antwoord nie. Iemand anders sal weer getuig dat die Here vir hulle spoedig 'n antwoord gegee het. Gebedsverhoring werk nie soos 'n outomatiese koffiemasjien, waar jy 'n knoppie druk en die antwoord uitspring nie! Gebed is waar jy besef dat jy van alles van God afhanklik is. Ons moet deurgaans bewus wees dat die Here ons Vader is en dat ons Hom kan vertrou om tot ons voordeel op te tree op sy tyd. Hy antwoord altyd ons gebede. Soms is dit 'n duidelike "Ja", ander kere 'n "Nee" of met "Wag".
- God sal soms "Ja" antwoord: Dit sal volgens sy wil en tot sy eer wees. Johannes sê in 1 Johannes 5:14-15 dat hy weet dat hy kry wat hy van God vra, omdat hy volgens God se wil bid.
- God sal soms "Nee" antwoord: Daar is versoeke wat nie volgens die Here se wil is nie, soos wanneer met selfsugtige motiewe gebid word. Jakobus 4:3: As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig. Daar is ook versoeke wat God in sy alwetendheid oordeel dat dit nie tot ons voordeel is nie. Byvoorbeeld: As jou kind met 'n skêr wil speel, sal jy dit natuurlik nie toelaat nie, al is hy ontevrede. So moet ons liefdevolle hemelse Vader ook soms vir ons nee sê, omdat dit wat ons vra, nie tot ons of tot voordeel van die koninkryk van die Here is nie. Vertrou Hom ten volle, want Hy weet wat die beste vir ons en vir die uitbreiding van sy koninkryk gaan wees.
- God sal soms antwoord met: "Wag ʼn bietjie." God se tyd is anders as ons tyd. Soms is die tyd nog nie ryp nie. Dit is soos saad wat jy saai. Dit neem tyd om 'n oes te lewer. Ander kere wil die Here jou eers laat groei in jou geestelike lewe. Hoe meer ons bid, hoe groter word ons insig. Ek het al baie keer oor 'n saak gebid en dan na jare se gebed tot die besef gekom dat ek dit nie meer nodig het nie, maar dat die Here in die plek iets anders laat gebeur wat vir my beter is.
Ons moet egter leer om met geduld op die Here te wag en Hom te vertrou. Hy sal op sy tyd ons gebede antwoord. As ons naby aan Hom leef sal ons weet wanneer ons gebed beantwoord word.
Gebed: Here, leer my om met vertroue en met geduld op U te wag om my gebede te beantwoord. Amen