Vers n dag - 24 Mei 2013
Die Onse Vader-gebed (9)
Quintus Heine
Matteus 6:13 "Maar verlos ons van die Bose."
Met die woord “Bose” word 'n gevalle engel bedoel. Hy stel hom teen God en sy volgelinge (Openbaring 12:9). Hy is die brullende leeu wat soek om ons te verskeur (1 Petrus 5:8). Hy is die Satan, die aanklaer van die gelowiges. Hierdie Bose kamoefleer homself so dat ons hom nie raaksien nie. Hy haal selfs die Bybel verkeerd aan en probeer ons verlei en oortuig dat die onrein wêreld en sy genietinge en sonde nie so erg is nie. Ons word gewoond gemaak aan onreinheid en onheiligheid. Die wêreldse sukses, mag en gierigheid het 'n groot aantrekkingskrag vir baie mense.
Jesus leer ons om te bid om van die Bose verlos te word – dat God ons sal bevry en sal bewaar van sy mag oor ons lewens. Hierdie gebed is 'n dringende hulpgeroep dat God ons sal vrymaak en beskerm.
Oorwinning van Christus: Hierdie gebed wil ons ook bewus maak dat Christus reeds die oorwinning aan die kruis behaal het en dat Hy vir ons teen die aanvalle van die bose sal beskerm. Hy laat ons nie alleen in die stryd teen die bose nie. Christus het die Satan en sy volgelinge reeds aan die kruis oorwin! Ons moet dit glo, leef en die Here vertrou om ons elke dag by te staan. In hierdie gebed bid ons juis om die beskerming van die Here. Ons moet glo dat die Here reeds aan die kruis vir Satan finaal oorwin het en dat Satan nie 'n houvas op 'n Christen kan hê nie (1 Johannes 4:4-5). Ons moet die positiewe boodskap van vryheid glo en leef. Moenie dat negatiewe gedagtes oor sonde en die bose jou oorheers nie. Wees positief dankbaar vir Christus se oorwinning, vra Hom daagliks om jou en jou geliefdes te beskerm (Efesiërs 7:10-18).
Here help ons om wakker te wees om die aanslag van die Bose elke dag raak te sien en blymoedig kan weet dat U ons daarteen sal beskerm.
Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.