Sy heerskappy in my maak my lig - 13 Junie 2013
Carina Francke
Matt 5:14: "Julle is die lig van die wêreld."
In die eerste paar dagstukkies het ons gekyk na wat God in ons doen, maar nou gaan ons fokus op hoe Sy "koninkryk in ons" 'n invloed op ons en die wêreld kan uitoefen.
Sy koninkryk in ons is het 'n implikasie: ons moet soek hoe om dit "sigbaar te maak" na buite deur die manier waarop ons leef. En hiermee help die Heilige Gees ons. Hy leer ons hoe om onder andere lig, sout en geur in die wêreld te wees.
Hierdie drie metafore verwys na die positiewe en behoudende invloed wat ek en jy as gelowiges op mense uitoefen.
Ons gaan vandag kyk na wat dit beteken om lig te wees.
Jesus is die ware Lig van die wêreld (Joh 8:12), maar koppel ons aan Homself met hierdie metafoor as Hy sê ons is die lig van die wêreld wat vanaf 'n berg of staander skyn vir almal om te sien. (Matt 5:14-16). Verstaan jy dat Sy teenwoordigheid ín jou die lig is wat deur jou gereflekteer word en dat jy nie lig opsigself is nie? Miskien verduidelik 'n beeld uit die natuur dit beter: die maan is nie 'n lig opsigself nie, maar weerkaats net die lig van die son wat op hom skyn - hoe nader die maan aan die son in sy wentelbaan beweeg, hoe helderder skyn die maan. Leef jy naby genoeg aan die Lig dat mense die lig in jou kan sien?
Blare absorbeer (son)lig wat fotosintese veroorsaak by plante. Dit behels die omskakeling van ligenergie in "brandstof" sodat die plant se aktiwiteite aan die gang gehou word. Op dieselfde wyse het ek en jy die Lig nodig om lewe te hê en dit in oorvloed (Joh 10:10). maar net so belangrik, ons moet in Sy lig staan om te doen wat Fil 2:15 leer: "Tree op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra." Dit is jou roeping om so naby aan die Lig te leef dat jou lewe kan uitbars in lewegewende lig vir diegene wat in donkerte sit.
Of gooi jy jou lig toe met 'n lap deur 'n onbetrokke en afgewaterde verhouding met die Here? Dan verloën jy die Lig in jou lewe en doen jy die mense met wie jy daagliks skouers skuur, 'n groot onreg aan - jy laat hulle met oop oë in stikdonkerte voortstrompel. En dít terwyl 'n toegegooide lig langs hulle staan!
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat ek U lig mag weerkaats. Help my om blokkasies te herken wat U lig in my wil verdonker. Amen.