Vers n dag - 26 Mei
5. As slonsigheid die oorhand kry
Hennie Symington
Hoekom is mense so gefassineer deur sekere realiteitsprogramme soos “Clean House†dat hulle vasgenael voor die skerm sit om te sien hoeveel gemors mense in hulle huise opgegaar het? Hoekom boei ander mense se slonsige, lui, wanordelike, of doodgewoon morsige lewens ons so?
ʼn Mens wonder soms in absolute ongeloof hoe mense toegelaat het dat die gemors so totaal buite beheer geraak het in die eerste plek. Sien ons dit as ʼn waarskuwing aan ons of kry ons lekker as iemand anders se gemors groter is as ons sʼn?
Slonsigheid gaan egter nie net oor vuil huise nie. Dis ʼn sonde wat ongemerk minder ooglopende hoekies van ons lewens binnesypel. Dis daardie “laat-gods-water-maar-oor-gods-akker-houding†teenoor die lewe wat slordigheid/luiheid ook een van die dodelike sondes maak. Dis makliker om boedel oor te gee en die slonsigheid sy gang te laat gaan. Kinders word nie behoorlik opgevoed nie want dis te veel moeite, waardes soos omgee vir ander, verwantwoordelikheid vir jou eie optrede en basiese lewensvaardighede moet maar van elders af in hulle ingedril word – waarskynlik deur die televisie wat nooit af is nie, populêre tydskrifte. of die bure se kinders.
Slordigheid het nie net betrekking op wanordelike huise nie. Dit reflekteer ook daardie traak-my-nie-agtige houding teenoor die omgewing, die manier waarop jy met mense praat, tuis en by die werk, en selfs hoe jy motor bestuur.
Slordige geloof?
Hoe beïnvloed slordige denke my geloof? Deur ander toe te laat om vir jou te dink oor reg en verkeerd word jou eie oordeelsvermoë ontkoppel saam met die die kreatiwiteit en passie vir dit waarin jy glo.
Laaste vraag: moet die derde dodelike sonde op die ashoop van die geskiedenis beland? Oordeel self.
Gebed
Here, al is my huis netjies, is my innerlike soms ʼn deurmekaarspul. Leer om dat orde ook ʼn goddelike beginsel is.
Vers ʼn dag
Die luiaard se honger word nie gestil nie; hardwerkende mense het meer as genoeg om te eet. Spr. 14:4
Nog 'n bietjie slaap,nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie handevou om te slaap, en daar kom jou armoede aangestap, daar oorval die gebrek jou soos 'n inbreker, sonder dat jy dit kan keer. Spr. 24:33-34