Vers n dag - 25 Mei
4. As vraatsug uit sy nate bars
Hennie Symington
As daar een dodelike sonde is wat sy kloue diep in die moderne samelewing ingeslaan het, is dit vraatsug. As ʼn mens die oormaat van vetsug in die Weste gadeslaan, kan ʼn mens nie anders as om die skuld vierkantig op ʼn ongebreidelde vraatsug te pak nie. Mense eet eenvoudig te veel en oefen te min.
Vraatsug is meer as net eet en drink
Dit gaan egter  nie net oor eet nie. Vetsug is ʼn simptoom van ʼn samelewing wat nie meer die nodige dissipline het om gesonde leefstyle na te volg nie.
Hoekom? Mense is verslaaf aan vermaak. Hulle sit vasgenael voor die televisie terwyl rekenaars en selfone, met hulle speletjies en aanlynvermaak, mense doem tot passiewe toeskouers wat huis-, rusbankgebonde is. Terselfdertyd word hulle aanhoudend gebombardeer met aanloklike advertensies vir gemorskos en ander lekkernye wat min mense, en veral kinders kan weerstaan.
Eintlik is vraatsug maar net ʼn simptoom van ʼn verbruikerskultuur wat buite beheer geraak het, nie net wat kos betref nie maar ook katoetertjies, elektroniese speelgoed, klere, tegnologie en ʼn duisend ander verbruikersfoefies. Trouens, die volume afval wat verwerk moet word is ʼn aanduiding van die oormaat verbruik wat oral oor die wêreld plaasvind.
In die vroeë Christendom, sou hierdie oordadige verbruik van goedere as ʼn hindernis op die pad na heiligmaking en die aanbidding van God beskou word omdat dit ʼn afgod maak dit wat jou die naaste aan die hart lê.
Vra jouself waarvoor sal jy jou siel verkoop? Want waar jou afgod is, daar sal jou hart ook wees.
Gebed vir vandag
Here, help my om matigheid voor oe te hou en dit as a waarde aan my kinders oor te dra.
Vers ʼn dag
As jy aansit om saam met 'n hoë amptenaar te eet, wees tevrede met wat jou voorgesit word en bedwing jou as jy 'n groot eetlus het. Moenie sy lekker kos begeer nie; dit kan jou duur te staan kom. Moet jou nie afsloof om ryk te word nie en moenie jou sin vir waardes verloor nie. Spr.23:1 - 4