Vers n dag - 24 Mei
3.   As hoogmoed die septer swaai
Hennie Symington
Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een vol eietrots, het vir niks gevra nie en het niks ontvang nie. Die ander een, oorweldig deur sy eie sondigheid, het vergifnis gevra en dit ontvang.
Gesonde selfbeeld of oordrewe trots
Eietrots of hoogmoed word dikwels verwar met ʼn goeie selfbeeld. Buitendien, om in vandag se arbeidswêreld suksesvol te wees, moet ʼn mens in jouself glo en ander laat glo dat jy so oulik is as wat jy voorgee. ʼn Oordrewe geloof in jou eie vermoëns word egter beskou as een van die 7dodelike sondes.
Eietrots maak jou arrogant en egoïsties. En dis dodelik. Regoor die wêreld ly en sterf mense daagliks as gevolg van oordrewe ras- of godsdientrots. Die gevolge van xenofobie het onlangs gesorg vir groot hartseer in ons eie land. Waar hoogmoed die oorhand kry, ly verhoudings daaronder omdat dit liefde vir ander uitsluit. Die ergste is dat hoogmoed ʼn mens van God kan skei. Kyk net hoe het Adam en Eva vir God weggekruip nadat hulle arrogant genoeg was om soos God te wil wees.
Onskuldig?
As jy meen jy is nie skuldig aan oordrewe trots of hoogmoed nie, vra jouself af of jy arrogant, sarkasies, ongeduldig, onverdraagsaam, , rassisties, snobisties of neerhalend teen ander is. Streef jy gedurig na erkenning, blaas jy gereeld jou eie beuel en ontsê jy ander hulle sukses? Oordeel jy mense aan die motor wat hulle ry, die buurt waar hulle bly, die klere wat hulle dra, die boeke wat hulle lees en die manier waarop hulle praat? As die antwoord nee is, dan kan ʼn mens aanvaar dat jy nederig, vriendelik, vergewensgesind, onselfsugtig, groothartig, toeganklik vir ander is en oor ʼn goed ontwikkelde sosiale gewete en ʼn realistiese dunk van jouself beskik.
Gebed vir vandag
Here, selfs as gelowiges is ons tog so lief om onsself op te hemel en ander uit te sluit uit ons koninkrykies uit. Here, U het met straatvrouens en belastingaarders aan een tafel gesit. Wat is ek beter as U? Vergewe my daardie trots wat seermaak en uitsluit..
Vers ʼn dag
“O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie.†Luk.18:11
As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself. Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van 'n ander te vergelyk. Gal. 6:3-4