Vers n dag - 14 Mei 2013
Die Onse Vader-gebed (1)
Quintus Heine
Die Here Jesus kom in Matteus 6:9 met die volgende woorde: "So moet julle bid." Hiermee het Hy vir sy volgelinge die model gegee hoe gebid moet word. In die volgende paar dae gaan ons spesifiek na die modelgebed kyk wat Christus self aan sy dissipels gee. Die kerkvader Augustinus het gereken dat daar nooit 'n dag mag verbygaan sonder dat Christene hierdie gebed bid nie.
Matteus 6:9 "Ons Vader wat in die Hemel is."
Ons: Dit is opmerklik dat die modelgebed wat die Here Jesus aan ons gee, nie begin met "Ek" nie, maar met "Ons". Die meervoudsvorm "ons" kom nege keer daarin voor. Hierdie "ons" is 'n gesamentlike verklaring van ons identiteit met die Christene van alle eeue. Dit beteken dat jy jou met die Christendom en gelowiges van alle eeue vereenselwig en elke keer wanneer jy en ek dit bid, ons dit saam met al die gelowiges van alle tye bid. Ons gebede moet dus altyd tot voordeel van God se koninkryk en vir die hele Christelike gemeenskap wees.
Vader: Jesus het self, behalwe in die vierde kruiswoord, nooit vir God anders aangespreek as "Vader" nie. Hy was die eniggebore Seun van God en die aanspreekvorm van "Vader" was sy besondere voorreg. Tog gee Hy hierdie voorreg ook vir sy volgelinge. Niemand kan God Vader noem as hy dit nie deur Christus doen nie (Johannes 14:6). Ons kan alleen deur Christus toegang kry tot God se gesin. Wie is dus die kinders van God, wie kan God hul Vader noem? Dit is almal wat in Christus se soenverdienste aan die kruis glo! In die hierdie woord "Ons Vader" word die persoonlike verhouding tussen jou en God bevestig. Jy is waarlik sy kind.
Uitnodiging tot gebed: Die feit dat God ons Vader is, beteken dat ons met vrymoedigheid met enigiets na Hom kan gaan. Die uitdrukking "Vader" is dus 'n uitnodiging tot gebed. Hy is ons Hemelse Pa en wil altyd net die beste vir ons gee. Soos 'n kindjie altyd na sy ouers gaan, wil God ons aanmoedig en uitnooi om na Hom te gaan. Hy is ons Vader en wil ons rus gee. Hy wil ons liefde gee. Wat ook al swaar op jou hart lê, kan jy na jou hemelse Vader neem – Hy nooi jou uit!
Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.