Vers n dag - 15 Mei 2013
Die Onse Vader-gebed (2)
Quintus Heine
Matteus 6:9 "laat u Naam geheilig word."
Waar dit die mens se natuur is (default) om eerste aan homself te dink, wil hierdie gebed hê dat ons eers God se eer en heiligheid moet opsoek en besing. Andrew Murray het gesê daar sal nooit enige groei in ons gebed wees as ons nie eers die Here se Naam heilig nie. Dit moet altyd eers oor God gaan. Rick Warren het gesê: "Dit gaan nie oor jou nie, dit gaan regtig alles oor God." Ons doel is om God tevrede te stel en Hom te eer.
Eerstens moet ons God se Naam heilig. Dit beteken om Hom te onderskei van alle ander name en gode. Dit is om God waarde te gee bo alle dinge. Om sy Naam te heilig beteken dat ons sy Naam sal eer, eerbiedig, bekendmaak en nie sal misbruik nie. Ons moet dit met respek behandel en versigtig daarmee om gaan.
Hoe doen ons dit? Ons heilig die Here se Naam deur 'n lewe van aanbidding en lof. Ons daaglikse lewe moet voordurend gekenmerk word deur: 'n waardestelsel wat tot God se eer is; 'n optrede wat getuig dat ons dissipels van Jesus is; 'n woordeskat waarvoor die Here nie sal skaam wees nie; besigheidstransaksies wat die Here trots sal maak. Ja, ons moet sy Naam groot maak in ons denke, doen en late, gesindheid en deur ons gehoorsaamheid aan Hom. Ons sal sy Naam heilig deur in algehele oorgawe tot Hom te leef. Om sy Naam te heilig, is deel van jou identiteit en persoonlikheid. Hy moet jou lewenskern wees en jou eie vrede en bekommernis moenie in die kern van jou lewe staan nie. Hierdie woorde wat ons bid, is dus baie duur woorde, want ons bid om self verander te word. Heiligmaking is om meer plek vir God en minder plek vir jouself in jou lewe te gee. Dit is om die eie ek stadig maar seker uit te werk sodat daar meer plek is vir die Heilige Gees om jou lewe in besit te neem.
Kom ons doen moeite om die gebed "laat u Naam geheilig word" ons lewensgebed te maak. Meer God en minder ek!
Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.