Vers n dag - 13 Mei 2013
Gebed is om God se belang eerste te stel
Quintus Heine
Matteus 6:33 "Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee."
Edward Pell het gesê: "Uit die oogpunt van Jesus, kan die mens nie werklik tot God bid indien sy gedagtes rondom homself sentreer nie, hy kan alleen tot God bid indien hy eerder begaan is oor God se koninkryk en wil, as sy eie."
Dit is 'n baie groot denkskuif om so oor gebed te dink. Gebed is in die eerste plek nie wat God vir ons gedoen het of gaan doen nie. Die Bybel leer ons dat ons gebede Godgesentreerd moet wees. Mense vertel vinnig dat hul gebede rondom God sentreer, maar sukkel soms hiermee. Soms sal ons met die beste bedoelinge weer net ons eie behoeftes eerste stel. Gebed gaan in die eerste plek daaroor om aan God eer te bring oor wie Hy is! Ons moet God se heiligheid, sy absoluutheid, sy koningskap, sy wil, sy liefde en sy almag altyd eerste en sentraal stel. Soos ons teks dit stel: "Soek allereers die koninkryk van God."
Jou gebedslewe is tekenend hoe jy elke dag voor die Here leef. Dit is die rede waarom ons graag die uitdrukking gebruik: "Jou hele lewenstyl is 'n gebed voor God." Indien dit jou lewenstyl is om God se koninkryk en wil altyd eerste te stel, sal dit vanselfsprekend in jou gebedslewe na vore kom. Dit is die basiese les wat Jesus vir ons leer oor gebed. Gebed gaan oor God. Sodra ons dit besef en doen, sal die belofte van die Here in Matteus 6:33 vir ons waar word. Ons moet eers die koninkryk van God soek!
So leer die Here ons ook bid in die modelgebed van die Onse Vader. Daar is 'n parallel tussen die tien gebooie en die Onse Vader-gebed. In die Onse Vader-gebed handel die eerste drie bedes slegs oor God, hierna volg die laaste drie bedes oor die mens en sy naaste se behoeftes. Ons moet in alle omstandighede eers God se eer en sy wil soek – ook in ons gebede!
Gebed: Here Jesus ek bid dat U my sal help om altyd God se eer en sy wil eerste te soek. Leer my om u koninkryk eerste te stel Amen.