Vers n dag - 10 Mei 2013
Om te kan bid moet jy God en jou naaste liefhê
Quintus Heine
Deuteronium 6:4-5 "Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag."
Die basis van ons verhouding met God is sy liefde vir ons en dat Hy van ons vra dat ons Hom ook moet liefhê. Sonder liefde vir God kan jy nie in 'n verhouding met Hom staan nie en sal jy ook nie kan bid nie. Om 'n lewende gebedslewe te hê, sal jy moet lief wees vir God en jou medemens. Jy sal Hom moet aanbid en jou afhanklikheid aan Hom moet verklaar. Jy sal sy dissipel moet word!
Liefde vir God: As jy nie met 'n liefdesgesindheid bid nie, sal jou gebed niks meer as 'n formele versoek wees nie. Sonder liefde vir God en jou naaste kan jy nie ontsnap van selfverheerliking nie. Jy sal sukkel om God se eer te soek en aan Hom alle lof te bring. Sonder liefde sal jy nie verstaan wat God in sy Woord van jou vra nie. Sonder liefde vir God sal jy nie sy hart verstaan nie. 1 Johannes 4:8 "Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde." Eers as jy in 'n liefdesverhouding met God is, sal jy werklik 'n geseënde gebedslewe kan hê, want nou gaan jou gebed nie meer oor jouself en jou eie behoeftes nie. Nou gaan gebed oor die eer van God en die opbou van jou medemens! 1 Korintiërs 13 leer ons dat die liefde die basis van enige verhouding is.
Liefde vir jou medemens. Sonder liefde vir jou medemens sal jy sukkel om hulle voordeel te soek. 1 Johannes 4: 20 As iemand sê: "Ek het God lief," en hy haat sy broer, is hy 'n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. Jy sal nie in opregtheid vir iemand, teenoor wie jy 'n wrok koester of swak verhoudinge het, kan voorbidding doen nie. Voordat jy vir iemand bid moet jy in jou hart voor die Here kan verklaar dat jy vir daardie persoon lief is. Dan is jou hart suiwer en sonder bybedoeling. Dan eers sal jy tot voordeel van jou medemens kan bid. Die liefde in jou hart het 'n wonderlike manier om jou hart te suiwer van jou eie ego. Liefde soek altyd die wil van God en die voordeel van jou medemens.
Gebed: Here leer my om U lief te hê dat ek aan U lof kan bring en u wil sal soek. Leer my om my naaste lief te hê dat ek met 'n suiwer hart vir hulle kan bid. Amen