Vers n dag - 7 Mei 2013
Ons mag bid omdat God se beloftes ons uitnooi
Quintus Heine
Romeine 4:20-21 Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.
God gee sy belofte: Ons kan 'n antwoord van God in ons gebede verwag omdat Hy dit vir ons in sy Woord belowe. Omdat Hy 'n getroue God is, kan ons met selfvertroue op daardie beloftes aanspraak maak en die beloftes in ons gebede opnoem. In Romeine 4 stel Paulus dit duidelik dat Abraham nie getwyfel het in die belofte van God nie. Hy het vertrou dat God in staat is om sy belofte na te kom. Abraham was seker dat God dit wat Hy belowe het kon en ook sou doen. Dit het ook so gebeur. God se beloftes is betroubaar. Wanneer ons gunste van God vra kan ons op sy beloftes staatmaak.
God wil ons geestelik seën: Die boek Petrus stel dit egter duidelik dat God se beloftes aan ons meer te make het met ons geestelike groei as met ons materiële welvaart. 2 Petrus 1:3 Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Natuurlik sorg God ook vir ons materiële behoeftes want Hy leer ons om in die Onse Vader-gebed daarvoor te bid, maar wat Hy in gedagte het, is 'n lewe wat meer en meer soos Christus is.
Tot God se eer: Miskien gee Johannes 14:13 vir ons die beste perspektief oor God se onderneming om ons gebede te verhoor. Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. Dit beteken dat ons enigiets van die Here kan vra, solank dit tot God se eer is. Ons moet dus voortdurend ons eie motiewe ondersoek of dit wat ons van God vra tot ons eie eer is en of dit tot God se eer is.
Gebed: Dankie Here dat ons enigiets van U kan vra. Help ons dat ons gebedsversoeke altyd tot u eer sal wees Amen.