Vers n dag - 6 Mei 2013
Ons mag bid, want ons is God se kinders
Quintus Heine
Daar is drie redes waarom ons as kinders van God die voorreg het om tot God te bid en van Hom 'n antwoord te verwag. Vandag staan ons stil by die eerste rede: Omdat ons sy kind is en in 'n verhouding met Hom staan.
Matteus 7:7-8 "Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word."
Om in gebed vir God iets te vra is natuurlik nie die hoofrede waarom ons bid nie, tog nooi die Here ons uit om met ons behoeftes na Hom te gaan. Daar is drie baie goeie Bybelse redes waarom ons kan verwag dat God ons gebedsversoeke sal beantwoord. Vandag kyk ons na die eerste rede, nl: Ons is kinders van God.
Ons verhouding met die Here Jesus is die grondslag van ons gebede. Jy kan nie 'n gebedsverhouding met Christus hê indien jy nie sy kind is nie. Omdat ons God se kinders is, het ons ook die voorregte wat ouers gewoonlik aan hulle kinders gee. Kinders mag met enige saak na hulle ouers gaan. Hulle kan met al hulle probleme en krisisse na hulle ouers gaan, tydig en ontydig. Hulle mag hulle vreugdes met hulle ouers deel. Kinders wat in goeie verhouding met hulle ouers staan het geen vrees vir hulle ouers nie. Hulle weet die ouers is lief vir hulle en wil vir hulle net die beste gee. Om 'n kind van God te wees gee ons die vrymoedigheid om enigiets van die Here te vra. Is dit nie wonderlik dat ons 'n hemelse Pa het na wie toe ons enige oomblik en oor enige saak kan gaan nie?
Vaders gee goeie gawes aan hulle kinders. So wil God aan sy kinders ook gawes gee. Die feit dat jy en ek kinders van Jesus is, gee ons die voorreg om van Hom te vra en 'n antwoord te verwag. Daarom begin ons die Onse Vader-gebed met die woorde: "Ons Vader". Hy is ons Hemelse Vader en ons is sy kinders. Dit gee aan ons sekere voorregte. God sal ons ook altyd antwoord, miskien nie met die antwoord wat ons wil hê nie, maar ons sal 'n antwoord ontvang.
Gebed: Here dankie dat ek enigiets van U mag vra omdat U my Hemelse Vader is en ek u kind is Amen.