Vers n dag - 3 Mei 2013
Gebed as prioriteit
Quintus Heine
Mark 1:35 Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na 'n eensame plek en daar gebid.
Vir Jesus was gebed 'n prioriteit. Hy het in die besigste tye nie gedink dat Hy eers moes rus of slaap nie. Nee, Hy het besef dat Hy in sulke tye juis gebed met sy Vader nodig het! Ek kry die gevoel dat baie mense dink gebed is 'n luukse en dat ons maar daarsonder kan klaarkom. Wel die Bybel leer die teendeel. Daar is baie voorbeelde, soos Daniël, wat elke dag gereeld gebid het omdat sy verhouding met God vir hom belangrik was.
Ons is bereid om vir baie dinge vroeg op te staan, maar baie min mense doen dit vir godsdiensbeoefening! Martin Luther het gesê as hy 'n besige dag voor hom het, dan spandeer hy daardie oggend meer tyd aan gebed. Dwight Moody het weer gesê: “As jou program te vol is dat jy nie tyd het om te bid nie, dan is jy besiger as wat God bedoel het jy moet wees."
Dit maak nie saak of jy 'n sakepersoon is wie se taak tot oorlopens toe vol is of iemand wat baie rondbeweeg nie. Dit maak nie saak met wat jy besig is nie, maar as jy nie tyd het om te bid nie, is jou lewe ongebalanseerd en moet jy dringend daaraan aandag gee. Gelowiges moet tyd maak om te bid - dis jou geestelike asemhaling. Jy sal geestelik versmoor as jy nie prioriteit aan jou gebedsverhouding gee nie.
Somtyds dink mense dat hul lewe eintlik 'n gebed is en dat daar nie spesifiek daarvoor tyd gemaak hoef te word nie. Natuurlik is ons lewenstyl 'n gebed vir die Here, maar steeds vra Hy van ons om spesifiek vir Hom tyd te maak. Na die voorbeeld van die Here Jesus moet jy tyd maak om te bid – anders kan jyself dalk net die belangrikste persoon in jou lewe word en nie Jesus nie.
Lees gerus my gebedsblog by : http://www.communitas.co.za/blogs/gebed
Gebed. Here leer my om gebed as prioriteit te beskou en altyd daarvoor tyd te maak. Amen.