Vers n dag - 2 Mei 2013
Ons gebedsverhouding met God
Quintus Heine
Ons gaan hierdie maand elke dag nadink oor ons gebedsverhouding met God. Gebed is die asemhaling van ons geestelike lewe. As ons nie bid nie gaan ons geestelik dood. Ek dink nie daar is iemand wat alles oor gebed kan sê nie, daarvoor is ons gebedsverhouding met God te kompleks en omvattend. Dit is die een tema waar daar nie spesialiste is nie, omdat elke mens 'n unieke persoonlike gebedsverhouding met God het. Mense het verskillende spiritualiteite en persoonlikhede. Ons gaan in die maand Bybelse gewens oor ons gebedslewe oordink.
Hoekom kan ons bid?
* Die grootste rede tot gebed is omdat die Here ons daartoe uitnooi! Ons word herhaaldelik uitgenooi om tot Hom te bid. Mat 11:28 "Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee." God gee om en wil hê ons moet Hom enigiets vra wat ons nodig het.
Gebed is nie 'n luukse of slegs vir mense wat verwaand dink hulle het toegang tot God nie. Dit is 'n noodsaaklikheid vir elke gelowige. Trouens God gee vir ons ook 'n opdrag om te bid: "Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. (Mat 7:7-8). Dit word in die Bybel selfs dringend gestel dat ons gereeld moet bid. Bid gedurig. (1 Tess 5:17).
* Verder bid ons ook omdat Jesus vir ons die voorbeeld gestel het. Vir Jesus was gebed 'n daaglikse gewoonte. Hy het God elke dag aangeroep. Hy het gebid toe Hy in nood is. Hy het ook gebid vir ander mense. Dit is ook die geval met gelowiges regdeur die Bybel. Na hulle voorbeeld weet ons dat ons moet bid en dat gebed noodsaaklik is.
* 'n Volgende rede waarom ons moet bid is die baie beloftes wat God op verskillende maniere vir ons gee. Hy wil ons lewe seën. Daarom wil die Here hê ons moet bid!
Die Bybel is vol uitnodigings tot gebed. God wil hê dat ons in 'n wonderlike verhouding tot Hom moet staan. Hy wil ons verlos van die sonde. Hy wil ons 'n goeie geestelike lewe gee - daarom nooi Hy ons uit en gee ons opdrag om tot Hom te bid!
Gebed: Here help my om elke dag van u uitnodiging om te bid, gebruik te maak. Amen.