Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 30 April 2013

Bly stil en bid!

Hennie Symington

Skrifgedeelte

En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.  En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.

Romeine 8:26-27

Die Deense filosoof, Kierkegaard het op ʼn keer geskryf: Eers het ek gedink bid is praat. Toe het ek geleer dat dit swyg is. Dit beteken om te luister – nie na jou eie stem nie maar wat God vir jou sê.

Die Bybel gee ons opdrag om te bid sonder ophou. Hierdie opdrag is moeiliker om na te kom as die meeste van die meer bekende tien gebooie. Dis onmoontlik sal sommige sê. Maar nie as jou hele lewe in ʼn staat van gebed is nie waar gebed deel van jou opstaan en gaan slaap is. Dit is manier waarop jy die lewe benader of met God omgaan. Om in ʼn staat van gebed te wees beteken egter nie dat jy ure, dae en maande op jou knieë moet deurbring in ʼn woordelikse gesprek met God nie. Dis eerder ʼn leeftyd waarin jy al hoe meer bewus daarvan raak dat God die bron van jou diepste vreugde en heil is.

As jy dus voorturend in ʼn staat van gebed is, dan maak dit nie saak dat jy soms praat, soms luister en soms net wag vir God om met jou te praat nie. Jy kan sommer met God gesels terwyl jy aartappels skil of inkopies doen. Natuurlik is daar steeds plek vir jou daaglikse, formele, stiltetyd met God. Ek kan my voorstel hoe God uitsien na daardie spesiale tyd saam met jou waar jy jou gebedslysie stelselmatig deurwerk met Hom.

Hoe praat God met jou?

God antwoord jou deur sy Woord, deur mense wat deur die dag met jou in aanraking kom en deur wat met jou gebeur en hoe jy dit hanteer. Dit kan selfs wees deur iets wat jy gelees het of selfs ʼn goeie fliek wat jy gesien het. Dis nie so moelik om te aanvaar as jy glo dat God se Gees onder ons kom woon het en elke gebed van ons met groot versigtigheid deurgee aan die Een wat luister.

Gebed

Here, te midde van die oorverdowende stemme rondom my, wees U die stilpunt in my hart. Amen

Liewe Versndag-lesers,

Vandag het ek aan die einde van my reeks gekom en ek groete tot ʼn volgende keer. Ek bedank u vir u ondersteuning, die kommentaar en soms kritiek – dit het my gehelp om te groei en soms ʼn ander insig te kry op my verstaan van die Woord. Groete in Christus, Hennie Symington

Previous article: Vers n dag - 2 Mei 2013 Prev Next article: Vers n dag - 29 April 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.