Vers n dag - 8 Mei 2013
God antwoord ons gebede as ons harte rein en suiwer is
Quintus Heine
Matteus 5:8 Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.
Die derde voorwaarde wat ons toelaat om van God 'n antwoord op ons gebede te verwag is suiwerheid van hart. Andrew Murray praat van "algehele oorgawe". Sören Kierkegaard praat van "deurlopende Godgesentreerdheid". Die Bybel gebruik die woord hart om die wese van die mens aan te dui, waar alle gedagtes, begeertes en houdings sy neerslag vind. JI Packer verklaar dat die suiwer en rein hart " 'n hart is wat God in alles soek en dien sonder om te wankel en wat alle alternatiewe wat dit teenstaan, totaal verwerp".
ʼn Rein hart: Voordat ons enigiets van God vra moet ons, ons eie hart en motiewe deeglik ondersoek. Psalm 139:24 vra: Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad! Geen moedswillige sonde of sonde wat ons vertroetel of wegsteek moet in ons hart skuil nie. Psalm 66:18-20 lees ons: As daar sonde in my hart was, sou die Here nie geluister het nie. Die bedoeling is nie dat ons geen sonde moet hê voor ons kan bid nie, dan sal niemand kon bid nie. Die bedoeling is dat ons nie bewustelik sonde vir God moet wegsteek en dink Hy weet nie daarvan nie. God vra 'n rein hart.
'n Opregte hart: God luister nie na versoeke van 'n onopregte hart nie. As ons God nie met opregte motiewe nader nie, is ons soos kinders wat probeer om hulle ouers te mislei terwyl die ouers duidelik kan sien wat die kinders in die mou voer. Dit beteken dat ons elke dag ons harte moet skoonmaak van ons eie sonde, ons sondige gedagtes en eiegeregtige motiewe. Ons moet dus in opregtheid bid met harte vol liefde vir God en ons naaste.
Ons moet egter gewaarsku wees dat ons strewe na suiwerheid nie gebruik moet word om God om te koop nie – so asof ons wil dink hoe meer ons van onsself gee hoe meer gaan God my gebed verhoor nie. Sodra dit jou motief is, is jou hart klaar nie meer suiwer nie. Dit is deel van die gebedsproses om nie net met woorde te bid nie, maar met jou hele lewe!
Gebed: Here help my om elke dag my hart te suiwer voor U! Ek vra dat U my vol van u liefde sal maak sodat ek 'n rein hart kan hê! Amen.