Vers n dag - 20 Mei
1.        Moderne blik op  die 7 dodelike sondes
Hennie Symington
Deesdae lyk dit asof sonde uit die mode is, bloot omdat mense se begrip van wat sonde is relatief geword het. Wat verkeerd is vir die een is nie noodwendig verkeerd vir ’n ander nie. Eintlik het sonde sy angel verloor want vandag se waarheid is more se leuen. Sonde word beoordeel p wat reg of verkeerd vir jou is onder bepaalde omstandighede. Maar wat se God se Woord oor sonde? Ek weet nie van jou nie maar laas toe ek gekyk het die tien gebooie nog vas gestaan en in Romeine 3:23 staan daar steeds geskryf Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie.
Wat van die 7 dodelike sondes? Bestaan hulle nog? En indien die idee van ’n lys van sondes vir jou effens middeleeus klink, is dit interessant dat die Vatikaan onlangs ’n opgedateerde lys van die dodelikste sondes in vandag se omgewing gemaak het. Dalk kan ’n mens later daarna ook kyk.
Ken jou vyand
Let wel: hoe jy ookal kyk na die lys van 7 dodelike sondes, dis nie so maklik soos ʼn inkopielys van mag en nie mag nie. Nie een van ons kan daarin slaag om God se gebooie 100% te onderhou nie. Die goeie nuus is egter dat Christus gesterf het vir elkeen van hierdie sondes maak nie saak watter vorm hulle aanneem nie. Maar omdat ons Christene is wat glo dat ons lewens geskoei moet wees op Bybelse voorskrifte, glo ons dat ons moet let op ons dade en bewus moet wees van watter impak dit op ons lewens het.
Die lys van sondes wat ons die Bybel (en die Torah alleen bevat nie minder as 613 nie) dien as ʼn riglyne om te leef soos God van ons verwag. Dit sou interessant wees om te lees wat sommige van die lesers te se het oor die top sewe sondes.
Gebed vir vandag
Here, vergewe my vir die sondes wat ek nie raak wil sien nie en vir die regverdigings van die sondes wat ek kies om nie op te gee nie. U bly enigste hoop op redding.
Vers ʼn dag
Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer 'n mens wat sonde is.
Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. Rom. 3:20-22