Vers n dag - 19 Mei
6.    Om jammer te kan sê
Hennie Symington
Volgens die skrywer van Peter Pan, James M Barrie is die lewe een lang les in nederigheid. En tog vind die meeste van ons dit ontsettend moeilik om die woordjie “jammer†met opregte spyt aan iemand te sê. En dit geld tuis maar ook by die werk.
Mense maak foute! Jou medewerkers maak foute, jou baas maak foute en jy maak ook foute want ons is maar almal mens. Die vraag is hoe reageer jy wanneer jy ʼn fout gemaak het.
Die volgende stukkie raad kos niks. Jy hoef nie ʼn “life-coach†of a arbeidsverhoudinge-deskundige in te roep en te betaal om die volgende vir jou te leer nie. As jy ʼn fout gemaak erken jou fout. Deur te erken jy was verkeerd help om vertroue te herstel (selfs in daardie uitsonderlike gevalle waar jy weet jy was reg!). Sê jammer, maak reg waar jy drooggemaak het en sit dit agter jou.
Wat om nie te doen nie:
Moenie ander blameer vir jou fout nie, moenie dikbek raak omdat jy uitgevang is nie, moenie probeer toesmeer nie en moenie verskonings soek nie. Jou sukses as ʼn werknemer word dikwels gemeet aan hoe suksesvol jy met jou medewerkers of en veral jou ondergeskiktes oor die weg kom. Deur hardnekkig te weier om te erken dat jy ook foute kan maak, kan jou duur te staan kom in jou loopbaan.
Sê jammer vir die Grootbaas
Jy kan dalk nog wegkom met jou ontwykingstatiek by die werk of by jou gesin, maar vir God is niks verborge nie. Hy sien deur al jou plannetjies. Gaan maak dus reg wat jy verbrou het, vra om verskoning en
bid om vergifnis – nie vir die fout wat jy gemaak het nie maar omdat jy daarmee wou wegkom - en kyk vorentoe.
Gebed vir vandag
Here, ek vind dit moeilik om te erken ek het ʼn fout gemaak. U het vir my foute gesterf Here. Vergewe my wanneer my ego in die pad staan van geestelike groei, ook by my werk.
Vers vir vandag
Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie.
Ek het gesê: Voor die Here bely ek my opstandigheid; en U het my skuld vergewe Ps.32:5