Vers n dag - 14 Mei
Wederom, Jesus!
Gister het waarskynlik verbygegaan sonder dat jy agtergekom het watter dag dit was. Vroeër was dit ʼn openbare vakansiedag en het almal van die geleentheid gebruik gemaak om piekniek te hou, familie te besoek of om ʼn lekker langnaweek daarvan te maak voor die naderende winter.
Gister het ons ons die dag toe Jesus opgevaar het hemel toe gevier met bitter min mense wat daarvan onthou het. Die meeste van ons gaan maar werk toe sonder om twee keer daaroor na te dink. Dalk is dit omdat die kommersiële waarde van die dag nul is. Daar’s geen ooglopende simbole soos ʼn kersboom, ʼn paaseier of ʼn kruis om ons daaraan te herinner nie.
Tog is dit die belangrikste dag in die geskiedenis van die Kerk. Dis die dag waarop die mensdom ʼn verteenwoordiger in die hemel gekry het - Iemand wat eerstehands ervaar het hoe dit is om mens te wees, en wat aan die regterhand van God sit om vir ons in te tree. Vir ons behoort dit ʼn baie belangrike dag te wees omdat dit ʼn splinternuwe hoofstuk in die Christelike geloof inlei.
Jesus kom weer
Toe Jesus na die hemel opgevaar het, het hy ʼn belofte aan ons gemaak. Hy het belowe om ons nie soos weeskinders agter te laat nie. Hy belowe om Iemand in sy plek te stuur – die Heilige Gees wat altyd by ons is. Daarby het Hy belowe dat Hy weer sou kom net soos wat hulle Hom op daardie dag sien opvaar het.
Wag met verwagting
Dit beteken nou nie dat ons hande gevou kan terugsit en wag nie. Terwyl ons wag is ons opdrag om getuies te wees vir Hom – om hierdie boodskap aan ander bekend te maak. Dit is hoe die vroeë kerk sy ontstaan gehad het. En dit is steeds ons opdrag om die Christus as die Redder van die mensdom te verkondig.
Sit neer jou pen, of maak toe jou rekenaar en raak stil vir ʼn minuut – om dankie te sê dat Christus ook vir jou intree by God.
Gebed vir vandag
Here, ek sien met verwagting daarna uit om U weer te sien. Baie dankie dat ek ek nie alleen hoef te wag nie, maar dat U die Heilige Gees gestuur het om my by te staan terwyl ek wag.
Vers ʼn dag
Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19 Nog net 'n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. Joh. 14:18 - 19