Deur Benescke Janse van Rensburg

Dit is die einde van die reeks, Onthou wie Hy is. Baie dankie vir al die saamgesels en terugvoer gedurende die reeks. Ek wil afsluit met ’n dagstukkie wat ek hoop dat jy sal uitdruk om saam met jou te dra wanneer jy nodig het om jouself te herinner aan wie Hy is.

In die woestyn waar Moses skape opgepas het, het God vanuit ’n brandende bos met Hom gepraat. Op die vraag wie Moses moes sê het hom gestuur na die Farao in Egipte, het God geantwoord: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur”(Eksodus 3:14). Wie is hierdie EK IS? Hier is vyf dinge wat Hy van Homself in die Woord sê:

Eienskap 1: Hy beskerm ons

  • Jesaja 41:10: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.”

Eienskap 2: Hy is Almagtig

  • Openbaring 1:8: “‘Ek is die Alfa en die Omega,’ sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.”

Eienskap 3: Hy is oral

  • Jeremia 23:24: “Niemand kan in 'n geheime plek wegkruip sonder dat Ek hom sien nie, sê die Here. Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here.”

Eienskap 4: Hy hou sy Woord

  • Numeri 23:19: “God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie, 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?”

Eienskap 5: Hy het geen beperkings nie

  • Jeremia 23:27: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?”

God het ons geskape om in ’n verhouding met Hom te staan. My gebed is dat ons sal tyd uitkoop om EK IS beter te leer ken. Mag ons Hom ontdek as die Almagtige, Alomteenwoordige Beskermer; die Een wat sy Woord hou en by wie daar geen beperkings bestaan nie. Hy is die Skepper wat regeer, maar ook betrokke is in die detail van ons elkeen se lewens. Kom ons waag dit om ’n tree nader aan Hom te gee. Hy wag reeds op ons. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir u goedheid en guns in my lewe. Lei my asseblief deur u Heilige Gees om U beter te leer ken. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Het jy die reeks geniet? Deel gerus jou terugvoer by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..