Hennie Symington

Die Woord het mens geword en onder kon kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.   … Niemand het God ooit gesien nie. SY enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, die het Hom bekend gemaak. Johannes 1:14,18

Vraag? Waarheen gaan jy op reis gedurende hierdie kersseisoen? Die wat bevoorreg is om ‘n “huisie by die see” te hê, gaan ‘n salige tyd hê by die see waar hulle die son, die blou lug, die strand en lekker braai kan geniet. Ander gaan dalk op reis oorsee om 'n wit Kersfees saam met Vader Krismis wat vrolik die toon aan gee met “Stil-le nag….” en kersinkopies doen op die maat van Jingle Bells en ander lawwe “carols” soos Rudolph the Red red nose reindeer.” Klink idillies. Maar is dit? Bring al die strooptogte deur stedelike oerwoude en die verblyf in vakansie-oorde (figuurlik gesproke) ons nader aan die “Kindjie in ‘n stal”? Natuurlik is dit noodsaaklik om vakansie te hou, maar wat het dit te doen met die Een wat alles prys gegee het om aarde toe te kom om ons te red van die ewige gesoek na meer en groter avonture, of meer goed om ons en ons kinders mee te amuseer.

Dalk is dit tyd om in hierdie Kersfees op ongekaarteerde paaie te reis. Christus nooi jou uit op ‘n anderste soort reis – ‘n reis na die diepste plekke van jou siel waar jou verborge sondes stof lê en vergader in die solders van jou siel. Kom reis terug op die paaie waar jy jou siel agtergelaat het op die talle snelweë en afdraaipaadjies van die lewe. Al wat jy nodig het om hierdie reis te onderneem is om stil te bly.

Dit is ‘n gevoelsreis terug na die diepste, verste plekke van jou hart wat hard geword en nie meer die lyding van ander raaksien nie. (Dit sluit in jou eie gesin, jou maat of ‘n moeilike tiener).

Dalk is dit ‘n reis na die dorre landskap van jou siel waar jy die waarheid lankal prysgegee het as “excess baggage”. Of dalk is dit ‘n ekspedisie na die donkerste oerwoud van jou binneste waar jy so vasgevang is in die welige groei van die lewe wat jy lei, dat jy die eenvoud van God se boodskap miskyk. Dalk is dit na eilande van eensaamheid waar jy jouself verloor het.

Gebed: Christus, U nooi my saam op ‘n reis terug na die eenvoud van ‘n krip in ‘n stal waar die Onsigbare sigbaar word en die onmoontlike moontlik. Heilige Gees, U nooi my uit op ‘n reis terug na die Vader. Ek nooi U, Heilige Gees, om saam met my te reis om die grootste wonder van die heelal, ‘n kind in ‘n krip met hart en siel te ervaar. Amen