Deur Benescke Janse van Rensburg

Vir bykans 30 jaar lank het ’n gesin in Michigan, Amerika ’n klip as ’n deurstopper in hulle skuur op die plaas gebruik. Geeneen van hulle het uitsonderlike waarde aan die klip van sowat 10kg geheg nie. Dit het egter verander toe ’n Professor in Geologie ’n paar toetse op die klip doen en bevestig dat dit inderdaad ’n meteoriet is! Oornag het die waarde van die klip vir die eienaar tot sowat R1,5 miljoen gestyg (sou ’n museum of versamelaar dit opraap).

Die stuk meteoriet op die plaas was altyd waardevol. Dit het egter net die regte persoon op die regte tyd geneem om die klip op te tel en die waarde daarvan uit te lig. Op dieselfde manier het God ons elkeen uniek en waardevol geskep. Ons waarde is dus reeds dié van ’n meteoriet, maar Hy beskerm ons soms dat ons dit nie onmiddellik raaksien nie omdat ons eers karaktergroei benodig. Wanneer ons egter hierdie karaktertoetse slaag, kan Hy ons ook binne ’n dag van ’n “deurstopper tot ’n meteoriet” neem.

Moses het dit beleef. Hy was reeds 80 jaar oud waar hy as skaapwater skape in die woestyn opgepas het. Die volgende dag was hy die leier wat die Israeliete uit Egipte moes gaan bevry. Ook Ester was een dag nog ’n weeskind en die volgende dag koningin in haar land. En selfs Gideon was die jongste seun van ’n “onbelangrike familie”, maar God het hom gekies as Rigter om die volk te lei.

In Psalm 139 word ons herinner hoe spesiaal ons in God se oë is. Nie net het Hy ons voor ons geboorte geken nie. In vers 17-18 lees ons: Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is . . .” Vir God is ons karakter belangriker as ons gemak. Juis hierom word ons in Psalm 105:19 herinner dat Hy ons karakter toets – en sal aanhou toets. Hy het dit met Josef gedoen. Toe Hy sien dat Josef die toets deurstaan het, het Hy hom bevorder tot onderkoning van die land.

Onthou, ons elkeen is as ’n meteoriet in God se oë geskape. Hy het ons elkeen met oneindige potensiaal geskape. Mag ons die Heilige Gees daagliks vra om ons te lei om karaktertoets op karaktertoets te slaag. Só sal ons ook met nederigheid van hart ons plek kan volstaan wanneer die tyd aanbreek wat Hy ons oplig om van deurstopper tot meteoriette beweeg. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U in beheer is van my lewe. Help my asseblief om my waarde in U te vind en die karaktertoetse te slaag sodat ek ’n instrument in U hande kan wees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien foto van die meteoriet by www.benescke.co.za of op die Stories van Hoop Facebook-bladsy.
  • Terugvoer: Deel gerus jou getuienis of terugvoer rondom die reeks by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is vir ons belangrik.