Deur Benescke Janse van Rensburg

Maak oop jou gordyne en laat sonlig in! Dít was die slotsom van ’n navorsingstudie deur die Universiteit van Oregan in Amerika wat ’n paar weke gelede gepubliseer is. In die studie is bevind dat bakterieë wat in stofdeeltjies in ons huise vergader (en ons siek maak) in donker kamers aanteel. Wanneer natuurlike sonlig egter daarop val word dit vernietig.

Hierdie bevinding het my laat dink aan die woorde in 1 Johannes 1:5: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.”

Wanneer ons sonde in ons lewens koester, word die impak daarvan, net soos die bakterieë wat in die donker aanteel, al groter. Dit is waar die vyand ons wil hou. Hy wil ons lewens vernietig en gebruik vrees en selfs ’n skuldgevoel om ons te oortuig dat God ons nooit van hierdie sonde sal vergewe nie.

Die waarheid is egter dat God gereed staan om sy lig in ons lewens en situasie in te skyn. In 1 Johannes 1:7 lees ons: “ . . . as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.” En in vers 9: “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”

Watter “bakterieë” laat jy steeds toe om te vermeerder in jou lewe? ’n Verhouding met iemand buite jou huwelik? Sukkel jy om los te kom van pornografie of te veel alkohol? Is dit skinderstories en jou begeerte om daarin te deel wat jou weghou van God? Of sukkel jy met ongeduld, woede of vrees?

Mag ons onthou dat God LIG is en dat daar in Hom geen duisternis is nie. Kom ons “trek ons gordyne oop” en laat Hom toe om sy lig in ons lewens in te skyn. Só sal ons beleef hoe Hy ons deur sy Heilige Gees vrymaak sodat ons ’n lewe in oorvloed kan smaak. Sterkte!

Vader God, baie dankie dat ek my hart voor U kan uitstort. Skyn asseblief vandag u lig in (noem die area van jou lewe) en help my om weg te stap van hierdie dinge wat nie eer bring aan U nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: As jy wil saamgesels, stuur ’n e-pos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is vir ons belangrik.