Deur Benescke Janse van Rensburg

As radio-omroeper het ek die voorreg om op ’n gereelde basis met interessante, inspirerende mense onderhoude te doen. Elke nou en dan tref ’n gesprek ’n mens se hart wat jou met ander oë na die lewe laat kyk. ’n Paar dae gelede het dit weer gebeur. Hier is die storie. . .   

In Augustus verlede jaar het Ryno en Verna Mulder hul gesonde 6 maande oue babadogtertjie, Mienke een oggend by die dagsorg afgelaai. Net na middagete daardie dag het hulle die oproep van die dagsorg gekry dat hulle dadelik moes kom. Hulle dogtertjie het aan melk verstik en is na die hospitaal gehaas.

In skok het Ryno en Verna met hul aankoms by die hospitaal hul dogtertjie se blou, lewelose liggaampie op die bed gekry. Die dokters het reeds hoop opgegee om ’n hartklop te probeer kry. In trane het Verna hulle gesmeek om nog eenmaal te probeer. Hulle het. En daar was ’n hartklop.

Min het Verna en Ryno in die wagkamer waar hulle gesit en bid het vir ’n wonderwerk, geweet wat vir hulle voorgelê het. Die gebrek aan suurstof het breinskade by klein Mienke veroorsaak. Dit was die begin van ’n lang, uitmergelende weg met baie trane, frustrasie en groot dokters- en terapeutrekeninge. Mienke is nou 21 maande oud en sy kan steeds nie loop, sit, self eet of praat nie. Tog bid Mienke se twee ouer sussies steeds elke aand saam met haar ouers vir ’n bonatuurlike wonderwerk.

Ryno en Verna se positiwiteit, opregtheid en geloof in God het my geraak tydens ons onderhoud. Beide getuig dat hulle God op ’n nuwe manier leer ken het die afgelope jaar. Hulle moes leer vergewe omdat dit hulle help om vry te leef. En op die vraag as hulle in tyd kon teruggaan na die dag in Augustus in die hospitaal, wetende wat hul vandag weet, sou hulle die dokters steeds gevra het om nog eenmaal te probeer, was hul antwoorde beide sonder twyfel, “ja”. Verna het bygevoeg: “Ek ervaar God se genade elke dag nuut. En elke dag se genade is vir my genoeg om deur daardie dag (en uitdagende situasies) te kom. Dit is vir my genoeg.” Sjoe.

’n Mens verstaan nie altyd waarom dinge gebeur nie – en soms moet ’n mens dit nie probeer uitredeneer nie. In Jesaja 55:8-9 sê God immers: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.” In die woestyn het die Israeliete soggens nuwe manna en kwartels ontvang – genoeg vir daardie dag. Net so is God se genade vir ons elke dag nuut en genoeg. Paulus het dit beleef. In 2 Korintiërs 12:9 praat God met Hom te midde van sy stryd: My genade is vir jou genoegMy krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Watter storm woed tans in jou lewe? Is jou hart seer omdat jy onlangs ’n geliefde moes groet? Is jy besig om deur ’n egskeiding te gaan? Is julle bankrot verklaar? Is daar ’n verslawing in die familie? Of word jy, soos Ryno en Verna, daagliks gekonfronteer met die uitdagings rondom jou kind met spesiale behoeftes? Mag ons onthou dat God se genade elke dag nuut – en genoeg – is om ons deur te dra! Sy krag kom juis tot volle werking wanneer ons swak is! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U genade elke dag nuut en genoeg is vir my. Ek bring (noem area in ou lewe) na jou en ek smeek U om my te versterk en op te lig uit my moedeloosheid. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Luister na die onderhoud met Ryno en Verna Mulder by www.benescke.co.za en/of besoek die Stories van Hoop Facebook-bladsy vir foto’s en vir hulle spesiale boodskap aan die Vers-n-Dag lesers.
  • Terugvoer: Deel gerus jou getuienis of terugvoer rondom die reeks by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is vir ons belangrik.