Neville Turley

Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder 'n volk; dit gaan goed met elkeen wat die wet van die Here onderhou.  Spreuke 29:18

Die begin van die jaar is 'n tyd van nadenke, 'n tyd om terug te kyk en om oor die toekoms te besin. Wat gaan môre bring?

Goed en kwaad is deel van menswees en van elke individu. Mense is in staat tot groot dade van ontferming, welwillendheid en liefde, maar hulle is ook in staat tot bandeloosheid en wreedheid wat alle verstand te bowe gaan.

Dit is 'n seën dat ons nie weet wat vir ons voorlê nie. Dit dwing ons om op te kyk na 'n liefdevolle Vader want slegs geloof in Hom help ons om die storms van die lewe te trotseer.

George Fox (1624-1691), die stigter van die Kwakers ("Religious Society of Friends"), het by geleentheid gesê: “I saw there was an ocean of darkness and death but that an infinite ocean of light and love flowed over the ocean of darkness.”

Ons vers vir vandag bevestig 'n belangrike bybelse waarheid. 'n Volk sonder geloof in die wil van God is 'n bandelose volk waar mense nie meer die wet van die Here onderhou nie. Hulle is verlore sonder God.

Geloof beteken dat 'n mense volkome vertrou in Christus deur wie ons na God kan kom. Paulus vat dit baie raak in sy brief aan die kerk in Galasië: "en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê." (Galasiërs 2:20)

Indien ons lewens, soos die van Paulus, deurdrenk is deur geloof in Jesus Christus kan ons die toekoms met vreugde en vertroue ingaan. Dit is wat "Voorspoedige nuwe jaar" vir ons as Christene moet beteken.

Ons het die versekering van ons Verlosser dat die Heilige Gees ons sal lei en bewaar, vandag, môre, en tot in ewigheid.

Gebed: Almagtige God, dankie dat u Seun die wonder van u reddende genade aan ons openbaar het, verander ons deur u Heilige Gees sodat ons U waarlik kan eer en verheerlik. Amen