Neville Turley

As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken. Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is 'n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. Wie sy woord egter gehoorsaam – in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het. 1 Johannes 2:3-6

Om in die voetspore van Jesus te loop, beteken om die standaarde wat Hy daargestel het vir ons lewens, elke dag toe te pas. Dit beteken dat ons leef in die wete dat ons nie 'n dooie Christus nie, maar 'n lewende Verlosser aanbid. Die Here Jesus is teenwoordig. Hy is 'n lewende realiteit.

In die 90's het 'n jeuggroep van die "Calvary Reformed Church of Holland" in Michigan, VSA 'n veldtog in hulle gemeenskap begin met die slagspreuk: "What would Jesus do?” Hulle wou Christus deel van almal se daaglikse lewe maak.

Om aandag op hulle uitreik te vestig, het hulle armbandjies gemaak met die letters WWJD daarop. Hulle idee was 'n treffer in beide Amerika en in baie Christengemeenskappe regoor die wêreld.

Gelowiges is aangemoedig om wanneer hulle voor 'n moeilike keuse te staan kom, voordat hulle 'n besluit neem, eers te oorweeg wat Jesus sou doen as Hy in hulle plek was.

Die vraag –wat Jesus sou doen – is nie nuut nie. Dit is 'n vraag wat reeds van die begin van die Christenera ongeveer 2000 jaar gelede gevra word. Dit kan egter slegs beantwoord word deur diegene wat in 'n regte verhouding met God is.

Ons tekvers vir vandag vertel aan ons hoe om te bepaal wat ons verhouding met God is. Die teks draai nie doekies om nie. Gehoorsaam ons sy gebooie? Indien wel, is ons in 'n verhouding met God.

Johannes sê dat indien 'n persoon God se woord, sy boodskap, gehoorsaam, die liefde van God in hom is.

Jesus sê: "As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer." (Johannes 14:15) Kom ons bewys ons liefde vir Hom deur in sy voetspore te loop.

Gebed: Almagtige God, ons loof en prys U, ons Verlosser. Verander ons deur u Heilige Gees sodat ons liefde vir U in ons daaglikse lewe duidelik sal wees. In Jesus se Naam.  Amen