Neville Turley

As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U 'n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?  Psalm 8:4-5

Onlangs, terwyl ek op 'n heuwel naby Sutherland in die Karoo gestaan het, kon ek my volkome vereenselwig met die skrywer van Psalm 8.

Die harde droë landskap rondom my het versag in die lig van die ondergaande son. Reg voor my was die sterrewag waar die reuse teleskoop (SALT) gehuisves word. Hier neem sterrekundiges van deelnemende lande die sterrestelsels waar en doen navorsing.

'n Mens het egter nie 'n teleskoop nodig om jou asem te laat wegslaan nie. Ek het net opgekyk en was verstom oor die prag van God se uitspansel. Dieselfde vraag wat die psalmdigter eeue gelede vir God gevra het, het by my opgekom. Wat is die mens?

Wetenskaplikes by die Apache Point Sterrewag in Nieu-Mexiko in die VSA wat by die "Sloan Digital Sky Survey" betrokke is, dink hulle het die antwoord gevind nadat hulle ongeveer 200 000 sterre in die Melkweg bestudeer het – die mens is 'n samestelling van chemiese elemente.

Ons liggame bevat 60 elemente wat noodsaaklik is vir ons bestaan en 97 persent van hierdie elemente is in 'n mindere of meerdere mate teenwoordig in die sterre wat hulle geanaliseer het. Hulle slotsom: ons is van hierdie sterelemente gemaak en wanneer ons planeet vergaan, sal ons weer terugkeer na hierdie sterelemente.

Dit is nie verrassend dat die menslike liggaam baie in gemeen met die hemelliggame het nie. God het die ganse heelal gemaak. Daar is egter een fundamentele verskil tussen die mens en die sterre bo ons. "Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het." (Genesis 2:7)

Ons is nie sterelemente nie, ons is lewende siele. Sterre is bestem om te sterf. Ons is egter na die beeld van God geskape, en sy Seun het ons van ons sondes verlos. Ons is deel van die familie van God en sal tot in ewigheid leef, nie omdat ons dit verdien nie, maar uit genade. Aan God al die eer.

Gebed: Hemelse Vader, ons is nie werd om deur U aangeneem te word nie. Skenk aan ons die krag en genade om deur u Heilige Gees U getrou te dien. Ons bid dit in Jesus se Naam.  Amen