Deur Benescke Janse van Rensburg

Vroeër vanjaar is die oorspronklike kaart van Disneyland, wat Walt Disney in die 1950’s gebruik het om die idee van die pretpark aan beleggers te verkoop, op ’n veiling vir meer as R9 miljoen verkoop. Dit is een van die hoogste pryse vir ’n Disney-aandenking tot op hede.

Met die aanvanklike bekendstelling van die idee vir ’n pretpark, was daar egter ’n hele paar doemprofete wat gedink het dat só iets nooit gaan nie werk nie. Disney se droom en visie was egter só sterk dat hy nie toegelaat het dat hierdie stemme hom van stryk bring nie. Die Disney World pretpark word vandag jaarliks deur 19 miljoen toeriste besoek.

’n Vaste visie laat ons met selfvertroue leef. Met tye gaan ons egter deur seisoene waar ons soos die Psalmdigter Dawid, voel of ons totaal gestroop is van hierdie visie. In só seisoen voel ons ook om soos Dawid in Psalm 13:3-4 te sê: “Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? . . . Luister tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag.”

Is dit hoe jy vandag voel? Jy beweeg vorentoe, maar jy weet nie of jou rigting reg is nie. Wanneer laas het jy God vir rigting gevra? In Jakobus 1:5 lees ons: “As een van julle wysheid (en ’n visie) kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee...” Ook in Jesaja 30:21 staan geskryf: Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’”

Omdat God ons elkeen uniek geskep het en daarom ook ’n “kaart” vir ons elkeen se lewens het, kan ons Hom met ons lewens vertrou. In stede van moedeloos raak, kom ons vra Hom om sy visie in ons harte opnuut helder te maak sodat ons ook met selfvertroue kan leef. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U die einde van die begin ken – en ook ’n bloudruk vir my lewe het. Gee my asseblief wysheid en ’n duidelike visie vir my lewe waar U my wil hê. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Opdrag vir die dag: Word vir ’n oomblik stil voor God en vra Hom om jou te wys of jy in sy visie vir jou lewe leef? Indien nie, vra Hom vir wysheid en ’n vars, nuwe visie sodat jy met selfvertroue kan leef.
  • Terugvoer: Deel gerus ook jou getuienis van God se deurbrake in jou lewe met my by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook net saamgesels of terugvoer gee as jy wil. Dit is altyd lekker om van jou te hoor. Benescke