Deur Benescke Janse van Rensburg

Gaan die wêreld vandag, môre of Sondag tot ’n einde kom? Sommige mense glo dit. Oor die afgelope paar weke het verskeie aanlynvideo’s soos ’n veldbrand versprei van mense wat glo die einde van die wêreld is op ons. Sommige glo dat hulle selfs die laaste dag kan voorspel.

As ons kyk na die klomp oorstromings, orkane en aardbewings wat die aarde die afgelope paar weke getref het, is dit te verstane waarom soveel mense die video’s aanhang en deel. Die einde is naby – of so lyk dit. Natuurrampe is immers een van die tekens wat Jesus in Matteus 24 gegee het waarvoor ons kan uitkyk om te weet dat die einde van die wêreld op pad is.

Net só het Jesus gesê dat daar gerugte gaan wees van oorloë, ’n toename van hongersnood en siekte, ’n toename in vals profete, ’n afname in moraliteit en tekens in die sterre (Matteus 24 en Lukas 21). So wat is ons veronderstel om te maak noudat ons al hierdie dinge rondom ons sien?

Die belangrikste is om te onthou wie die Een is wie ons aanbid. In Markus 13:32 lees ons: “...niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.” Ook in Jesaja 46:9-10 praat God self: “Ek is God, daar is niemand soos Ek nie. Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek.”

God weet presies wat Hy doen en ook wanneer Hy dit gaan doen. Hy het ons mense geskape om in ’n verhouding met Hom te staan en Hy wil nie sien dat een persoon verlore gaan nie.

Met hierdie gerugte dat die einde van die wêreld hier is, het ons dus een van twee opsies: Ons kan óf in vrees begin leef oor wat potensieel vir ons voorlê óf ons kan doelbewus begin om meer te bid en uit te reik na ons vriende en geliefdes wat nog nie ’n verhouding met Jesus Christus het nie. Al wat ons immers kan saamneem Hemel toe, is mense – maak seker jou geliefdes gaan saam. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U in beheer van die heelal en ook my lewe. Help my asseblief om ’n instrument in U hande te wees as daar mense in my omgewing is wat U nog nie ken nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Opdrag: Maak ’n lys van jou geliefdes en vriende wat nog nie ’n verhouding met God het nie. Bid spesifiek elke dag dat God hulle deur sy Heilige Gees sal aanraak. Dit is die grootste geskenk wat jy vir iemand kan gee.  
  • Terugvoer: Gee gerus terugvoer of deel jou getuienis van God se deurbrake in jou by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke