Deur Benescke Janse van Rensburg

Dankie vir al die getuienisse regdeur die reeks. Hier is twee wat ek met jou wil deel:

Leser 1, GrietjieMy man, Johann, is in Junie 2010 met aggressiewe prostaatkanker gediagnoseer. Sedertdien is hy al ’n paar keer geopereer. Met sy sesmaandelikse opvolgbesoek vanjaar op 31 Augustus is bevind dat sy kankertelling verdriedubbel het. Daar is vermoed dat hy weer kanker in ’n ander deel van sy liggaam het. 

’n Dag later is my man vir ’n skandering van sy hele liggaam om kankergewasse uit te wys. Weer het vriende, familie en Bybelstudiegroepe saam vir ’n wonderwerkgebid. 

Nadat ek die Vers-’n-Dag stuk gelees het, getiteld, “God hoor as ons na Hom roep,” het ek net weer stil geraak voor God en Hom gedank dat Hy ons lewens in sy hande hou. 

’n Paar uur later het die spesialis vir Johann geskakel met die nuus dat daar geen teken van kanker opgespoor kon word nie! Dit is ’n absolute wonderwerk en ek dank God vir sy genade en genesing!”

Leser 2“My man besit sy eie besigheid.Aanvanklik het dit goed gegaan, maar mettertyd het die sukses veroorsaak dat my man van God af weggedryf het. Ons het al meer baklei en later selfs op skei gestaan. Deurentyd het ek gebid dat God my man se hart sou aanraak. 

Ek was 7 maande swanger toe my man se besigheid só begin opdroog het, dat hy sy werkswinkel moes opgee om van die huis af te werk. ’n Week voordat hy uit die werkswinkel sou trek, is hy van al sy toerusting beroof! Dis net God se genade en ons ouers se finansiële ondersteuning wat verhoed het dat ons ons huis verloor het. 

In hierdie moeilike seisoen van ons lewens, het ons al meer begin kerk bywoon. Een aand tydens ’n aanbiddingsdiens by die kerk, het die voorsanger ’n oomblik stil geword. Hy hetgesê dat hy ervaar dat God sê dat daar ’n man in die gehoor is wat wonder of God hom nog raaksien. Vandat ek my man ken het hy nog nooit op sy eie vorentoe gestap in die kerk nie. Daardie aand het hy egter in trane vorentoe gestap. Ek het so gehuil dat ek myself nie kon beheer nie. Dit was die aand wat my man God weer werklik gevind het. 

Al was dit nooit God se wil dat dit sleg moes gaan met my man nie, het Hy dit gebruik om my man weer nader aan Hom te trek. Ek dank God vir hierdie wonderwerk. Dit gaan weer goed by my man se besigheid. Ons is amper skuldvry. En ons huwelik is sterker as ooit! Alle eer aan God.”

In 1 Johannes 5:14 lees ons: “En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra.” God sien die die groter prentjie waar ons net ’n gedeelte daarvan sien. As dinge dus nie uitwerk soos wat jy opgehoop het nie, kan jy Hom steeds vertrou. Hy kan alles ten goede meewerk. Sterkte. 

Vader God, baie dankie dat U my gebede hoor. Help my om sterk te staan as die las in my wagtyd op ’n deurbraak soms te swaar voel vir my om te dra. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen. 

• Kyk na foto van lesers by www.benescke.co.za.

• Terugvoer: Deel gerus jou getuienis van God se deurbrake in jou lewe byThis email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook saamgesels of terugvoer gee as jy wil. Dit is altyd lekker om van jou te hoor. Benescke