Deur Benescke Janse van Rensburg

Omdat skoliere van die Senior Sekondêre Skool Bethelsdorp gereeld deur “skollies” geteiken word, het die onderwysers besluit om selfverdedigingsklasse by die skool aan te bied sodat skoliere hulself kan bemagtig om weerstand te bied. Terwyl ek na ’n foto staan en kyk waarop beide dogters en seuns by die skool gereed staan om enige skollie die skrik op die lyf te jaag, het dit my getref dat ons as gelowiges dieselfde behoort te doen. Ons is daagliks in ’n stryd gewikkel teen ons onsigbare vyand en ek wonder hoeveel van ons onsself beveilig?

In Efesiërs 6:12-13 lees ons: Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” Ook in 1 Petrus 5:8 staan geskryf: “Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.”

Hoe kan ons onsself beveilig?  

Wenk 1: Trek die wapenrusting aan:

In Efesiërs 6:13 lees ons: “Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.”

Om die wapenrusting aan te trek, beteken om daagliks vir God te vra om: ons gedagtes te beskerm (helm), om ons daaraan te herinner dat Jesus se kruisdood ons van ons sonde gereinig het (borsharnas), om ons deur sy Heilige Gees te lei om in elke situasie die waarheid te praat en die waarheid na te streef (belt), om ons te help om met selfvertroue die goeie nuus van Jesus Christus te deel en te lééf (skoene), en seker dié belangrikste, om Hom te vra om ons daagliks te help om tyd te maak om sy Woord te lees en te oordink (swaard).

Wenk 2: Onderwerp jou aan Hom

In Lukas 10:19 lees ons: “Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.” Wat is die geheim om die vyand te oorwin? In Jakobus 4:7 lees ons: Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.”

Die vyand kan probeer om ons negatief te maak en ons van ons geloof te beroof, maar wanneer ons vasstaan en erken dat ons nie in ons eie krag en mag die vyand kan oorwin nie, maar dat Jesus dit reeds gedoen het, beleef ons hoe die vyand van ons af wegvlug. Ons vaste geloof in ons Skepper, verlam die vyand. Mag ons hierdie week ingaan met harte vol hoop en geloof, wetend dat ons Vader ons oneindig lief het en wil beskerm. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U ons beskerm en na ons omsien. Help my asseblief om my geloof en vertroue in U te plaas al voel my huidige situasies soms oorweldigend. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Gee gerus terugvoer of deel jou getuienis van God se deurbrake in jou by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke