Benescke Janse van Rensburg

Oor die afgelope paar dae het verskeie lesers hul getuienisse met ons gedeel by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Baie dankie daarvoor. Hier is drie daarvan:

Leser 1: Wanda: “Rondom 16 jaar gelede het ek een middag uit die winkelsentrum gestap na waar ek my motor parkeer het. Dit was weg! Omdat dit ’n maatskappymotor was, het ek veral geweldig sleg gevoel. Vir ’n ruk lank het ek geen vervoer gehad nie. ’n Gemeentelid het vir my ’n rygeleentheid kerk toe gereël. Groot was my verbasing toe ek en dié man vinnig goeie vriende geword het. Vandag is ons 14 jaar lank gelukkig getroud! Alhoewel dit nooit God se wil was dat my motor gesteel is nie, was Hy in staat om my skade in iets baie positief om te draai! Alle eer aan Hom.”

Leser 2: Niek: “Jare gelede was ek op pad terug huis toe, toe ek by ’n rooi verkeerslig by die Rivonia-afrit op die N1 stilgehou het. Voor my was drie motors. Die bestuurder van die heel voorste voertuig het skielik uitgeklim en haar tas uit die kattebak van die motor uitgehaal. Net toe sy die kattebak toemaak, het die verkeerslig na groen oorgeslaan en dit was behoorlik ’n geskarrel om in haar motor te kom. Net toe sy wou vertrek, het ’n minibus taxi egter in volle vaart deur die kruising gejaag. As die vrou sekondes vroeër weggetrek het, sou die taxi haar presies op haar deur getref het! Elke keer as ek aan daardie oomblik dink, dank ek God dat Hy ons kan beskerm (en soms die skynbaar onbelangrike dinge soos ’n skielike behoefte om jou tas uit die kattebak te haal) daarvoor gebruik. Prys God vir sy beskerming!”

Leser 3: “Tans is ek in die grootste storm van my lewe. Motorneuronsiekte het reeds my hele liggaam lam gemaak en is nou besig om die laaste bietjie asem wat ek oorhet ook uit my liggaam uit te druk. Soms, soos vandag, voel alles oorweldigend en neem die emosies oor, maar wanneer ek my toevlug by die Here soek, vind ek dat Hy keer op keer die storms in my gemoed laat bedaar. Ook wanneer vrese oor my toekoms my wil oorweldig, vind ek troos sodra ek dit by Jesus se voete gaan neersit. Die belangrikste is om naby aan Jesus te leef!”

God is werklik daagliks in ons lewens betrokke deur sy Heilige Gees. Hy lei ons, beskerm ons en vertroos ons wanneer ons dit benodig. In Psalm 34:18-19 lees ons: As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede. Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.” Ook in Deuteronomium 31:6 staan geskryf: “Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.” Kom ons prys Hom in elke storm wetend dat Hy die toekoms ken. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U in beheer van my lewe bly. Help my om soos hierdie lesers my sorge in U hande oor te laat en dankbaar te bly vir wat ek het in elke seisoen van my lewe. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.  

  • Opdrag vir die dag: Kom ons kies om in benoudhede eerste na God te draai en Hom te dank dat Hy in beheer van ons lewens bly – eerder as om toe te laat dat bekommernis ons verswelg.
  • Terugvoer: Gee gerus terugvoer of deel jou getuienis van God se deurbrake in jou by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke