Benescke Janse van Rensburg

Op ’n dag hoor ’n priester van ’n vrou wat beweer dat God persoonlik aan haar verskyn het. Hy was baie skepties en het besluit om die vrou te gaan spreek. “Wanneer God weer aan jou verskyn,” het hy snedig begin, “vra Hom om my geheime sonde, waarvan net Hy weet, aan jou te openbaar.” Die priester het gedink dat hy hierdeur sou kon bewys dat die ou vrou leuens vertel.

’n Maand later het die priester teruggaan na die vrou. “Mevrou,” het die priester begin, “het jy toe vir God gevra om jou van my geheime sonde te vertel?” Die vrou het geknik. “Ek het.” Die priester het geskrik. “En wat het Hy gesê?” het hy versigting gevra. Die vrou het geglimlag. “Hy het gesê: ‘Watter sonde? Sê vir die priester ’n sonde wat Ek vergewe het, vergeet Ek.”

Dit is waar. As ons waarlik berou het oor ’n verkeerde daad en ons harte voor God uitstort en daarvan wegdraai, vergewe Hy ons en Hy dink nie weer daaraan nie. Luister maar na sy woorde in Jesaja 43:25: “En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie.” Ook in Hebreërs 10:17 lees ons: “Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.” En in Psalm 103:12 lees ons: “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.”

Alhoewel God ons onvoorwaardelik vergewe, sal die vyand sy bes doen om ons gereeld daaraan te herinner omdat hy ons van ons selfvertroue wil beroof en hoop dat dit ons sal verhoed om ’n lewe in oorvloed te leef. Kom ons sien dit vir wat dit is terwyl ons onsself herinner aan wat Jesus Christus vir ons aan die kruis gedoen het. En kom ons vra God om ons in staat te stel om dieselfde onvoorwaardelike vergifnis en genade te bewys aan ander wat ons te nagekom het. Só breek ons verseker die houvas van die vyand in ons lewens. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my vergewe het en my volkome vryspreek as ek berou het oor my dade. Help my asseblief om met vryheid te leef sodat ek van U goedheid kan getuig teenoor ander mense. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Opdrag: Oordink hierdie woorde van Charles H Spurgeon: “Laat ons na Golgota gaan om te sien hoe ons vergewe is. Maar laat ons ook ’n rukkie daar vertoef om te leer hoe om ander te vergewe. Daarna kyk ons op na ons Vader om te leer hoe om dit wat vergewe is, te vergeet.”
  • Terugvoer: Gee gerus terugvoer of deel jou getuienis van God se deurbrake in jou by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke