Vers n dag - 14 Desember 2012
Die geboorte van Vrede
Hennie Symington
“Hoe wonderlik klink op die berge
die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring,
wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring,
wat redding aankondig,
wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!” Jesaja 52:7
Die woord vir sjalom wat vrede beteken het ʼn baie ryker betekenis in die oorspronklike
Hebreeus as in Afrikaans. Dit is meer as net die afwesigheid van konflik. Sjalom omvat
die konsep van heelheid, goedertierendheid en voorspoed. In die Ou testament is vrede
ook onafskeidbaar gekoppel aan regverdigheid, geregtigheid, morele
korrektheid en om in vrede en harmonie met ander te leef.
Wie reg doen, sal vrede hê;
wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet. Jesaja 32:17
Met ʼn soortgelyke beeld in sy gedagte, sien die Psalmdigter uit na ʼn tyd waar God
se genade die volk omvou. Op daardie dag sal daar uitgeroep word:
Liefde en trou sal mekaar ontmoet,
geregtigheid en vrede sal mekaar omhels. Psalm 85:11
Vrede kom deur God se wil. Dit beteken die herstel van die verhouding tussen
God en die mensdom. En die uitverkore Een was God se eie Seun. Jesus het die in die
wêreld verskyn as die een wat die opdrag van die Lydende Dienskneg moes vervul om
die goddelike vrede aan ons te bring. Selfs voordat Jesus gebore is, het een van sy
aardse familielede verkondig wat God beplan het om te doen:
“En jy, kindjie,
'n profeet van die Allerhoogste
sal jy genoem word,
want jy sal voor die Here uit gaan
om sy pad gereed te maak,
om kennis van verlossing
aan sy volk mee te deel:
verlossing deur vergifnis van hulle sondes,
danksy die genadige ontferming van ons God.
Soos die môreson sal Hy opgaan
en uit die hoogte op ons afstraal,
om lig te bring aan dié wat in duisternis
en in die skaduwee van die dood lewe,
om ons voetstappe te rig
op die pad van vrede.” Lukas 1:76-79
Mag jy te midde van al die klater en geklingel van geld en die geroesemoes rondom Kersfees die vrede van God in al sy volheid hierdie kersseisoen ervaar.
Gebed: Here, in ons tyd het die woord vrede ʼn blote slagspreuk geword. Dankie Here dat ons U geregtigheid, vrede, heelheid en goedheid in u Seun Jesus Christus sigbaar kan ervaar. Gee ons die krag, wysheid en genade om ware vrede op ons stukkie aarde na te streef. Amen