Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 17 Oktober 2012

U IS DIE CHRISTUS

Frank Retief

“Maar julle,” vra Hy hulle, “wie, sê julle, is Ek?” Petrus antwoord Hom: “U is die Christus!”

Markus 8:29

Hierdie is 'n wonderlike oomblik in die evangelieverhaal.  Matteus het dit in nog meer detail opgeteken in Matteus 16:13-20.  Hy skryf verder: “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is."

Wonder jy ook soms hoekom dit wat vir jou so duidelik is oor Jesus en die evangelieboodskap vir ander so moeilik is om te begryp? Of hoekom soms in die erediens is jy so diep geraak deur die boodskap en ander in die bank langs jou lyk asof hulle nie eers luister nie.

Hierdie is 'n vreemde, diepgaande waarheid.  Net soos Petrus Jesus nie uit sy eie krag en begrip kon erken as die Messias nie, so kan ons ook nie die waarheid aangaande Jesus verstaan as dit nie aan ons geopenbaar word nie.  God in sy groot genade open ons oë en skielik kan ons dit verstaan wat voorheen vir ons verborge was.

Dit is rede om Hom te loof en prys, dat Hy deur sy groot genade ons oë vir die waarheid geopen het.  Al die genesings van blinde bedelaars of mense waarvan ons in die Evangelies lees, het eintlik hierdie groot gebeure aangekondig – die Heilige Gees wat mense se harte en verstand kom open sodat hulle in Christus kan glo en gered kan word.

Die gevolg is dat ons baie nederig voor die aangesig van God moet buig wetende dat ons is wat ons is deur sy genade alleen.  Gevolglik moet ons wanneer ons diegene wat nog nie verstaan nie teëkom, baie nederig en met deernis hanteer – nie skoorsoekerig en arrogant nie.  Ons moet bid dat die Here in genade hulle sal aanraak sodat hulle van harte kan glo.

Ons moet ook onthou dat ons nie deur argumente mense kan dwing om te glo nie.  Dit is die werk van die Heilige Gees.  Maar ons moet voortdurend vir ons geliefdes en vriende bid, dat indien ons 'n kans kry om met hulle hieroor te praat, ons woorde vergesel sal word van die lewegewende krag van die Heilige Gees. En mag ons dan met blydskap sien hoe baie tot geloof kom omdat God in sy genade die waarheid aan hulle harte openbaar het.

Gebed: Here Jesus, help my om te onthou dat ek ook blind was, maar dat ek nou, slegs deur u genade, kan sien. Skenk aan my liefde, geduld, nederigheid en deernis vir ander.  Gebruik my om die Woord van die lewe aan hulle te verkondig.  Open hulle oë, hulle harte, hulle verstand, sodat hulle ook kan glo en gered kan word. Amen”

Previous article: Vers n dag - 18 Oktober 2012 Prev Next article: Vers n dag - 16 Oktober 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.