Vers n dag - 16 Oktober 2012
DIE ONVERGEEFLIKE SONDE
Frank Retief
“Dit verseker Ek julle: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat. Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde.” Markus 3:28-29
Hierdie is baie ernstige woorde en moet ernstig opgeneem word. En tog is dit ook waar dat hierdie woorde groot verwarring en besorgdheid veroorsaak in die harte juis van diegene wie nie hierdie sonde kan pleeg nie.
Ons Here praat hier met mense wat groot wonderwerke aanskou het asook baie tekens gesien het van sy krag en sy aanspraak dat Hy die Seun van God is. En tog het hulle hulle harte verhard en geweier om Hom aan te neem. Inteendeel, het hulle Hom beskuldig dat Hy kop in een mus met die duiwel is.
Die Heilige Gees is die Een wat Jesus aan ons voorstel en tot ons hart en verstand oor Hom praat. Om hierdie aansporings te verwerp, is so goed as ons sê aan Jesus: "Ek wil U nie in my lewe hê nie." Dit is wat die skrifgeleerdes gedoen het (vers 22). So, die laster teen die Heilige Gees, of om Hom teen te staan of te verwerp, bestaan nie net uit woorde nie – want wie van ons het nie een of ander tyd die Verlosser verloën nie? Nee! Die laster teen die Heilige Gees beteken dat 'n persoon voortdurend en hardkoppig sy hart verhard wat 'n lewenslange verwerping van Christus en sy verlossing meebring. Om sonder berou oor sondes te sterf beteken dat daar geen verlossing is nie, geen keuses meer nie. Dit beteken om verlore te sterf.
Maar dit is nie jy nie. Jy lees hierdie stuk omdat jy van Hom wil hoor. Jy verlang na nuus oor Hom. Jy wil graag meer krag ontvang om Hom te kan volg.
Ek het op 'n keer twee bejaarde susters ontmoet wat oortuig was dat hulle verlore is want elke keer wat hulle gekniel het om te bid, is hulle gedagtes gevul met lasterlike dinge. NEE! Nie eers dit is laster teen die Heilige Gees nie. Dit is bloot 'n aanval van die duiwel op sensitiewe mense. Mense met obsessiewe gedragsprobleme, senuweeprobleme of sielkundige behoeftes kan baie maklik oortuig word dat hulle die onvergeeflike sonde gepleeg het.
Asseblief, skep moed. Jesus het nie gekom om te veroordeel nie, maar om te red.
En almal wat Hom wil volg en waarlik glo in sy reddende genadewerk aan die Kruis sal ingesluit word in die nuwe wêreld wat kom, ongeag hoe swak hulle is of waarmee hulle ook al gepla word.
Dit is net diegene wat aanhou om Hom en sy weg na verlossing te verwerp wat finaal verlore is. Diegene wat daarop aandring om hulle self te red of wat dink dat hulle goed genoeg is en nie 'n Verlosser nodig het nie – dit is die mense wat in ewige gevaar verkeer.
Gebed: “Almagtige God, U het u Seun na die wêreld gestuur om ons te verlos. Ek glo in Hom, vertrou op Hom en glo dat U my deur Hom verlos het. Help my in my swakheid, ken my hart en versterk my geloof elke dag." Amen