Vers n dag - 30 Augustus 2012
Titel: Vriendskap
Francois Sieberhagen
Reukolie en wierook is iets om te geniet, maar die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry. Spreuke 27: 9
Ons het almal sekere foto’s wat altyd spesiaal sal bly. Daardie oomblik wat vasgevang is waar jy sélf in die foto is. Daardie oomblik in die kleine wat ʼn uitdrukking is van die groter prentjie.
Een so ʼn foto is waar ek saam met my goeie vriend Kapt. Tom Rautenbach voor in die stuurkajuit van ʼn Boeing 737-800 sit. Hy as die opleidingskaptein sit aan die regterkant en ek mag in die kapteinssitplek sit. Weet ek iets van vlieg af, nee glad nie. Inteendeel.
Die foto vang egter iets vas van ons vriendskap. As vriend laat hy my toe om sy persoonlike ruimte binne te kom. Om deel daarvan te word ten einde hom en sy omstandighede beter te verstaan. Hy deel met my sy liefde en passie vir sy werk. Hy laat toe dat ek hom verstaan binne sy groter konteks.
En dit is waar die waarde van vriendskap in lê. Om toe te laat dat ons mekaar as vriende beter verstaan. Om jouself oop te stel sodat die groter prentjie duideliker kan word. En dit is dan wanneer vriendskap genotvol raak. Dit is dan wanneer jy as vriend in opregtheid mekaar kan ondersteun en kan uitreik in tye van swaar en krisis. Mekaar kan troos wanneer dinge skeefloop en kan help om emosies te temper. Saam met mekaar die vreugdevolle tye van sukses te kan deel sonder om afgunstig te wees. Om gewoon net saam bly te wees vir die ander persoon.
Talle mense gaan deur die lewe sonder vriende. Daar is baie redes hoekom dit gebeur. Dit opsigself is ʼn groot jammerte. Vriende, en nie kennisse nie, is tog so noodsaaklik aangesien ons nie op ons eie deur die lewe kan gaan nie. Ons het ondersteuning nodig. En dit is hier waar vriende ʼn rol speel.
Goeie vriendskappe vra dat ons dit sal koester en daaraan sal werk, soos in enige verhouding. Dit is ʼn uitdaging. Om die uitdaging te aanvaar is die moeite werd, dit weet ons uit ondervinding. Die vrugte op die harde werk is veelvuldig.
Hoe lyk jou verhouding met jou vriende?
Gebed: Here, dankie vir vriende en dankie dat ons in mekaar vreugde mag vind. Amen.