Vers n dag - 29 Augustus 2012
Titel: Omstandighede
Francois Sieberhagen
Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan. Psalm 62: 6, 7
In Bujumbura, Burundi besoek ek ʼn sentrum wat omsien na weeskinders. Hierdie jong kinders is MIV/Vigs-wesies en dit gryp aan jou siel as jy met hulle kuier. So jonk en reeds alleen. Geen ma of pa nie.
Soos wat kinders maar is, wil hulle net gesels. Hulle praat Kirundi en die werkers daar vertaal vir my. Hulle is energiek en meer as gewillig om vir ’n foto te staan. As jy dan nog onmiddellik vir hulle die foto wys, soos wat dit moontlik is met ʼn digitale kamera, dan word daar gegil van plesier.
Ek neem ʼn seun af. Ek kan sien sy energievlakke is nie dieselfde as die van die ander kinders nie. Skielik kom die gewaarwording by my op, hierdie seuntjie kan dalk MIV-positief wees. Dit is inderdaad die geval. Hy moet sy medisyne kry en my kamera kliek onophoudelik. Ek besef skielik, hierdie foto’s sal nooit gebruik kan word nie. Die verhaal wat dit vertel is té seer. Dit sny té diep.
Eks as ʼn ouer word ook diep geraak. Ek sukkel om nie emosioneel te raak nie. Ek besluit om te kyk of ek nie ʼn besonderse foto geneem kan kry nie. Dit sukkel maar.
Terwyl ek so werk gaan hierdie teks in Psalm 62 deur my kop. Dit is ʼn teks wat ek al by ʼn paar geleenthede met families gedeel het tydens en midde in moeilike omstandighede. Dit is ʼn teks wat groot troos bring, want dit praat van ʼn anker. Daardie anker wat ons elkeen nodig het as dit onstuimig raak in ons lewens.
Die lewe veroorsaak dat ons elkeen ʼn rots en veilige vesting nodig het. Daardie plek waar ons kan gaan skuil as die winde woedend rondom ons tier. Daardie plek waarheen ons kan gaan met ons onsekerhede, ons hartseer, ons twyfel en ons onrus. Die Psalmis kom met die belydenis en uitnodiging. God is daardie rots. God is die veilige vesting. Die uitnodiging is daar om na Hom te gaan. Durf ons die uitnodiging laat verbygaan?
Gebed: Dankie Here dat u altyd daar is vir my te midde van my omstandighede. Amen.