Vers n dag - 6 Augustus 2012
Titel: Kinders
Francois Sieberhagen
Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.” Matteus 19:14
As baie jong kind was ek, soos ek glo talle ander, aan die hart gegryp deur die verhaal van die bekende ds Solly Ozrovech. Iemand wat per ongeluk in die verkeerde kinderhuis beland het en as Jood tot bekering kom en predikant word. Vir my was hy die toonbeeld van Jesus se liefde wat praktiese gestalte gevind het.
Tydens ʼn besoek aan Uganda neem Justine Zikusooka van die Bybelgenootskap van Uganda my na ʼn projek in die platteland. Hier reik hulle uit na kinders wat MIV+ is en ander kinders wat gesinshoofde is. Hier kry ek weer ʼn ander invalshoek op wat hier in Matteus bedoel word.
Wat ek daar ervaar was suiwer liefde in aksie. In ʼn stadium nooi Justine vir die negejarige Ruth om by haar te kom sit. Terwyl hulle sit en gesels neem ek ʼn steelfoto. Ek het al vantevore gesê ʼn foto jok nie, dit vang die waarheid vas. Wat ek vasgevang het in daardie oomblik was die onbaatsugtige liefde van ʼn vrou wat omgee vir hierdie kind wat ʼn uitsiglose toekoms, menslik gesproke, op aarde het.
In beide die gevalle van ds Solly en Ruth was dit gewone mense wat die liefde van Jesus vir kinders gestalte gegee het. Dit was gewone mense, uit die aard van die saak verloste mense, wat uitgereik het na weerlose kinders en met hulle handel en wandel ondersteun het binne hulle moeilike omstandighede.
Elke dag lees en hoor ons in die media van kinders wat te na gekom word. Dit ruk jou aan die hart. Maar dit is juis waar die uitdaging vir ons as gelowiges in lê. Ons met uitreik, ons moet prakties raak in ons Christenskap. Ons moet gewoon uitreik en vir kinders wat oor ons pad kom soos Jesus raak. Ons moet meewerk dat sy koninkryk ook aanbreek in hulle lewens. Dit gaan nie net oor kinders wat ongelukkig is nie, maar ook oor kinders wat in 'n stabiele omgewing woon en werk.
Ons as gelowiges het ‘n plig en verantwoordelikheid. Kom ons aanvaar die uitdaging om betrokke te raak.
Gebed: Dankie Vader dat ek mag deel wees van u plan om na kinders te mag omsien.